Ogies se diewe raak al meer waaghalsiger
Nie eers die motoriste of verbygangers waarsku die trokdrywer dat Ogies se diewe besig is om sy trok te plunder nie.
SeLfs ’n afleweringstrok het die naweek onder Ogies se diewe deurgeloop.
Die trok wat vleis afgelewer het, se agterkant is oopgemaak en die diewe het hulself gehelp aan die heerlike snitte vleis.
Terwyl die drywer van die trokkie geduldig vir die sekuriteitswag om die hek oop te sluit, is hy heeltemal onbewus van wat agter in sy afleweringstrok aangaan.
In die video wat op WITBANK NUUS se webtuiste gesien kan word, stap inwoners doodluiters verby die skelms in die afleweringstrok. Hulle maak die drywer nie eers attent op die gewoel in die trok nie.
Ogies se diewe het verlede week koerantopskrifte gehaal toe hulle op ’n man wat meubelvervoer doen se sleepwa opgeklouter het toe hy by ’n stopstraat in die dorp gestop het.
“Ek kon my oë nie glo nie. Die diewe het op my sleepwa geklouter toe ek by die eerste stopstraat in Ogies gestop het en die kliënte se goedere deursoek, terwyl my bakkie in beweging was,” het mnr. Johan Swanepoel vertel.
Die diewe het op 29 Januarie Swanepoel se kliënte se bokse oopgeskeur, hul buit uitgesoek en die goedere van die sleepwa afgegooi.
Hulle het hulle buit opgetel en gaan verkoop aan elkeen wat nie vir ’n winskopie kan nee sê nie.
Die eienaar van ’n besigheid op die dorp het gesê hulle ly skade omdat die myne, kragstasie en kontrakteurs hulle werkers verbied het om in die dorp te stop vir ’n vinnige koeldrank of iets te ete.
SIEN DIE VIDEO HIER
“As daar iets agter op ’n bakkie of trok is, word dit binne sekondes gesteel. Niks is veilig in Ogies nie,” het die besigheidsman gesê.
Die diewe is al geïdentifiseer en word ‘pinchies’ genoem. Hulle verkoop hulle buit om dwelms mee te koop.
Konstabel Bhekuyise Ziqubu, Ogies Polisie se woordvoerder het gesê hierdie probleem geniet prioriteit by die polisie en hulle wil seker maak die dorp is weer veilig om deur te ry.
Deel jou opinie met ons op:
WhatsApp: 060 866 8682
Email: info@witbanknews.co.za
Of op ons sosiale platforms Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking
