Die ‘Ridder van die grootpad’ se dood is nie net nog ’n storie op my produksielys nie.
Die het my tot stilstand geruk en laat besef watter belangrike rol gemeenskapjoernaliste speel.
Cecil Rautenbach is op 31 Januarie in Mandelastraat omgery.
Daar het hy alleen gesterf.
Alleen was deel van Cecil gewees.
As jy kyk na die inhoud van die drasak wat hy by hom gehad het, besef ek skielik Cecil het die grootste rykdom gehad.
Tussen die twee komberse in die drasak was sy Bybel.
Tussen die Bybel se blaaie het koerantuitknipsels weggekruip – geel koerantberigte wat deur een van my voorgangers geskryf is.
Dit was toe Cecil weggeloop het van die huis af.
Almal het na hom gesoek.
Die Bybel is die bekendste boek in die wêreld.
En in hierdie bekende boek het Cecil sy beriggies gebêre.
Ek gesels met die ‘Ridder van die grootpad’ se sussie en sy laat my weer dink oor die beroep wat ek gekies het.
“Gemeenskapjoernaliste is soveel meer as net verslaggewers, want hulle skryf en huil oor mense wat hulle ken,” het sy saggies vir my gesê. Die mense in my stories is somtyds ‘gesiglose iemands’ wat ek sekerlik nooit sal ontmoet nie. Ander weer is vriende, kennisse, of name wat ek ken. Almal se stories laat ’n stukkie agter in my hart soos ’n reuse ‘collage’. My redakteur se woorde refrein in my kop vandag, “Elke storie is wat jy daarvan maak, teken joune met voortreflikheid.”
Cecil se geel koerantuitknipsels is vandag vir my ’n klinkende simbaal wat uitreik en sê: ‘jy maak ’n verskil’.
Dankie Cecil Rautenbach, Ridder van die grootpad, vir die les tussen die blaaie van die Bybel.
LEES MEER
https://www.citizen.co.za/witbank-news/189118/ridder-van-die-grootpad-veras/
https://www.citizen.co.za/witbank-news/188603/ooggetuies-gesoek/
Deel jou opinie met ons op:
WhatsApp: 060 866 8682
Email: info@witbanknews.co.za
Of op ons sosiale platforms
Instagram Twitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking