Local newsNews

Singende haarkapster maak naam in die musiekwêreld

Marelize is reg om die musiekwêreld haar verhoog te maak.

Marelize Roodt is nie net handig met ’n skêr en haardroër nie, wanneer sy die mikrofoon vat, raak die gehoor stil.

Dié haarkapper van House of Hair and Beauty is so pas geteken by Find Your Harmony musiekmaatskappy.

Haar eerste liedjie ‘Wherever you are’ word op 25 Maart vrygestel.

Marelize, wat onder die verhoognaam Violet Dolivo optree, het die lied self geskryf en met die hulp van die bekende DJ Vassmo is die liedjie gepoleer en reg om in klubs wêreldwyd gespeel te word.

Marelize se reis saam met Vasmo het begin toe ’n video waar sy op ’n troue sing deur die bekende sangeres Tanya van Schalkwyk, wat ook bekend staan as That Girl, raakgesien is.

Dié video het by Vassmo geëindig en die res is geskiedenis.

“Vassmo het gesê my stem is ‘husky’ en het ook die woorde ‘dirty voice’ gebruik. Ek moes ’n demo stuur en hulle was dadelik geïnteresseerd,” het Marelize vertel.

Sy het gebloos en vertel dat die eerste liedjie wat sy ooit voor ’n gehoor gesing het was ‘I’m a Barbie Girl’, “ Ek was net vier jaar oud en onthou daardie tyd was dit ’n treffer gewees.”

Marelize se talent is later ook deur een van haar laerskoolonderwysers raakgesien en sy is opgeneem in die Ainos-sanggroep wat saam met bekende kunstenaars soos Eden opgetree het.

Soos die tyd aangestap het, het sy aan verskeie kompetisies deelgeneem en was gereeld as kategoriewenner aangewys.

Drama het egter haar aandag getrek en in die hoërskool het sy verskeie hoofrolle in dramastukke opgevoer en ook aktief by die ATKV betrokke geraak.

Tussendeur kliënte het Marelize weer begin vertel dat sy op 17-jarige ouderdom

deurgedring het tot in die vierde ronde van Idols.

“Dit was ’n belewenis, iets wat ek elke kunstenaar sal aanraai om te doen. Ek het soveel pret gehad, maar toe word ek siek en val uit.”

Na die Idols-seisoen het meer en meer mense Marelize gevra om op troues en funksies te sing.

“Van daar af leef ek my passie af. Ek sit hart en siel in elke lied en as ek skryf sit ek ’n stukkie van myself op papier.”

Volgende keer as jy hare gaan doen vra gerus vir die borrelende Violet Dolivo om vir die agtergrondmusiek te sorg.

Dié singende haarkapper van eMalahleni se stem gaan beslis nog baie op die lug gehoor word.


Deel jou nuusbrokkies met ons Telefoon: 013 656 2490, WhatsApp: 060 866 8682 of Epos: info@witbanknews.co.za

Volg ons ook op dié sosiale media platforms:  InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button