Die Steenkoolstad se ‘erfporsie’ gaan hulle nog duur te staan kom

Die munisipaliteit se Eskom skuld groei by die dag.

Die mens voer nie altyd oorlog met gewere of chemikalieë nie.

Die ‘wapens’ wat in die apartheidsjare gebruik is, is besig om ons munisipaliteit te kruppel.

Gedurende die apartheidsjare is daar ’n ‘oorlog’ gevoer wat die ANC-gedrewe munisipaliteit nou in die voet skiet.

Daar is toe gesê geen munisipale rekeninge moet vereffen word nie, só sal die apartheidsregime op sy knieë gedwing word.

Die uurglas het al 28 jaar bygelas en intussen het daardie ideologie nie verander nie.

Die plaaslike munisipaliteit sit met ’n reuse probleem omdat Eskom in hulle nek blaas om hul R5.9 biljoen te kry.

Daardie geërfde ‘oorlogsvoering’ dra by tot die munisipaliteit se dilemma.

Nog steeds het inwoners die nie-betaal-kultuur en vee hulle alies af aan die munisipaliteit se dreigbriefies.

Hoe die munisipaliteit dit gaan regkry om Eskom gelukkig te hou, weet nugter alleen.

Emma-willie-lê-nie staan darem op die podium as die munisipaliteit in Mpumalanga wat Eskom die meeste skuld. Goven Mbeki Munisipaliteit neem die tweede plek in met net so oor die R2.8 biljoen. Dit is beslis nie iets om oor te spog nie.

Inteendeel behoort die munisipaliteit hul kop in skaamte te sak.

As gevolg van die skuld en rente sit dié Steenkoolstad met leë koffers. Dit is waarom, liewe leser, die slaggate nie gevul kan word nie, straatligte nie vervang kan word nie en ons nie met trots kan sê dis ons mooi stad daardie nie.

Gedurende die week het Elon Musk aandele in die sosiale media-platform Twitter aangekoop.

Liewe Elon, jy moet tog nog ’n sagte plekkie vir sonnige Suid-Afrika hê. As jy nie té besig is om te Tweet nie, kan jy dit nie in jou hart vind om ’n reddingsboei na Emma-willie-lê-nie uit te gooi nie asseblief?!


Share your news tips via: Telephone: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Email: info@witbanknews.co.za

Or follow us on WITBANK NEWS platforms: InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

Exit mobile version