News

Landbouweerkundige sê die nat reënweer is amper verby

Hier is die reënvooruitsigte vir die res van die jaar.

November was ’n lekker nat maand gewees.

Een van WITBANK NUUS se gereelde lesers het 183mm vir die maand in Modelpark gemeet.

Witbankdam is vol en die sluise word gereeld oopgemaak om te verhoed dat die water oorloop.

In die omgewing is die aarde versadig, daarvan getuig al die plaasdamme en poeletjies.

Mnr. Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige het gesê dat die 2021/2022-somerseisoen sal onthou word vir ver bogemiddelde reënval oor groot dele van die somerreënvalgebied en veral die somergraangebied.

Op baie plekke in die somergraangebied was die reën van 2021/2022 meer as dubbeld die langtermyn-gemiddelde reënval.

Van den Berg het gesê Middelburg was op 1 089 mm teenoor 760 mm in die vorige seisoen en effens ondergemiddelde reënval het op plekke in die ooste­like produksiegebiede, soos eMalahleni, Standerton en Delmas voorgekom.

“Die huidige nat siklus is naby aan die einde, want dit gebeur nie maklik dat daar meer as vier nat seisoene agtermekaar is nie. Dit lyk nie asof die 2022/2023-somerseisoen besonder droog gaan wees of ondergemiddelde reënval gaan ervaar nie, veral nie rondom die midsomer nie. Dit is omdat die verwagte teenwoordigheid van ’n swak La Niňa, gunstige Indiese Oseaan-oppervlaktemperature, sowel as klimaatsverandering op positiewe reënvaltoestande dui in die periode vanaf November tot einde Januarie,” het Van den Berg gesê.

Dit is baie moontlik dat die periode vanaf Februarie tot April volgende jaar swakker reënvaltoestande gaan ervaar, wat ook moontlik die draaipunt gaan wees van die huidige nat siklus.

“’n Groot deel van die somergraangebied was die afgelope twee jaar alreeds in die derde of selfs vierde jaar van ’n sogenaamde natter siklus. Geskiedenis wys dat nat siklusse by uitsondering langer as vier jaar aanhou. Dit sal dus onwaarskynlik wees dat die huidige nat siklus langer as die 2022/2023-seisoen gaan aanhou tensy ander faktore soos La Niňa of die Indiese Oseaan ’n rol speel om die siklus te verleng,” het Van den Berg gesê.

Hy het gesê die El Niňo Suidelike Ossilasie (ENSO) speel ook ’n groot rol.

Die ENSO met twee hoofkomponente van La Niňa en El Niňo waarin daar ook neutrale jare kan voorkom, is tans steeds in ’n La Niňa-fase wat reeds vanaf Julie verlede jaar heers.

La Niňa het vanjaar versterk vanaf Februarie tot middel Mei en dit behou steeds redelik sterk vlakke, waar dit gewoonlik teen Maart moes verswak en tot Augustus en September in ’n dormante fase oorgaan.

Huidige voorspellings, alhoewel daar nog heelwat onsekerheid is, toon dat die La Niňa aan die begin van die nuwe jaar in ’n neutrale fase oorgaan.

Dit behoort egter steeds op swak La Niňa-vlakke te bly tot ten minste Januarie.

Dit kan veroorsaak dat reënvaltoestande nog redelik gunstig gaan bly tot ten minste Januarie en Februarie.

Van den Berg het ook genoem dat die Indiese Oseaan-dipool (IOD) reeds in ’n negatiewe fase ingegaan het.

Dit kan veroorsaak dat reënvaltoestande gunstig kan begin word oor die oostelike somergraangebiede vanaf die laaste deel van Oktober tot Januarie en vanaf November en Desember oor die sentrale tot westelike dele.

Deel jou nuuswenke met ons viaTelefoon: 013 656 2490 Epos: wtbnews@mweb.co.za Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: InstagramTwitterWitbank News toepFacebook pageWitbank News Breaking

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button