Pap wiel beweerde wiel-diewe se ondergang
Die buurtwag in en om Blancheville, SAPS en CSC Virtual Guarding is op en wakker en het ’n groep beweerde dief-wiele vasgetrek.

Die noodlot het vyf beweerde wiel-diewe ’n taai klap toegedien.
Die vyf mans is Saterdag, 21 Januarie in die vroeë oggendure in Blancheville
vasgetrek.
Volgens mnr. Frik van Dyk van Hoëveldpark se buurtwag het hy inligting ontvang van ’n Ford Courier bakkie wat ’n pap wiel gekry het.
“Die legkaart het nie heeltemal gepas nie en ek is uit na die bos toe. Toe ek daar opdaag saam met CSC Virtual Guarding en die polisie, skrik die verdagtes hulself oorhoeks en spaander die bosse in,” het Van Dyk vertel.
Die polisie het een verdagte gevang terwyl die span van CSC Virtual Guarding
die ander gevang het.
“Wiel-diewe werk altyd in ’n span van vyf, ’n drywer en een vir elke wiel. Wiele word binne sekondes gesteel,” het Van Dyk gesê.
Die beweerde wiel-diewe het aan die polisie gesê dié wiele is glo vanaf ’n Fortuner naby die Stofbergpad gesteel.
“Ons het self ’n wiel-dief spannetjie wat ons baie besig hou. Sodra dit te warm word in eMalahleni, skuif hulle Middelburg toe. As dit daar té warm word vir hulle, skuif hulle terug eMalahleni toe,” het Van Dyk afgesluit.
“Omdat die saak in die buurdorp plaasgevind het, is die dossier daarheen gestuur,” het polisie woordvoerder, kaptein Eddie Hall gesê.
Deel jou nuuswenke met ons via: Telefoon: 013 656 2490 Epos: wtbnews@mweb.co.za Of volg ons op WITBANK NUUS se sosiale platforms: InstagramTwitterWitbank News toepFacebook pageWitbank News Breaking
