Diewe slaan toe kort nadat honde in Blancheville vergiftig is
Al hoe meer diefstalle word in Blancheville gerapporteer. Die buurtwag vra dat inwoners op hul hoede moet wees.
Honde in Blancheville is weer die afgelope week vergiftig.
Me. Sandra Windell wat in Stephanusstraat bly het gesê die gesin se Great Dane gekruis met ’n rifrug, worshondjie en baba pittbull asook hulle kat is in die oggendure van 4 April vergiftig.
“My man maak gewoonlik die deure oop sodat ons hondekinders ons in die oggend kan kom groet. Maar hy het dadelik onraad vermoed toe hy sien sy kar staan voor die garage en die garage se lig is aan,” het Windell gesê.
Hulle het ontdek dat die kar se battery en radio en verskeie goedere uit die garage gesteel is.
Van die vermisde goedere sluit ’n bromponie, babawaentjie, die kinders se fietse en visstokke in.
Windell het gesê alhoewel die garagedeur raas as dit oopgemaak word, het hulle niks gehoor nie.

Sy vermoed dat die diewe iets in die huis gespuit het omdat almal die volgende dag oor hoofpyn gekla het.
“Ons oë het dik gevoel asof ons lank aaneen gehuil het. Ek was ook heeldag verskriklik moeg,” het Windell gesê.
Hulle het later stukke boeliebeef met ’n onbekende blou bestanddeel in die erf ontdek.
“Ons harte is uitmekaar geruk. Pote, die Great Dane was ons lewe. Hy het ons nege jaar lank opgepas. Dit was aaklig om hom by die hek dood aan te tref.”
Mnr. Riaan van Wyk, die buurtwag se voorsitter het gevra dat almal by die buurtwag betrokke raak.
“Ons het min hande, ons offer ons tyd op om ons buurt veilig te hou. Kom sluit asseblief aan en hou jou gesin en viervoetige kinders veilig,” het Van Wyk gesê.
Word gerus deel van die buurtwag deur op dié skakel te kliek WhatsApp.
Het jy meer inligting oor dié artikel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: witbanknews.co.za.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.
