‘Kon-nie’ moet nou begin ingeligte besluite neem
Dit is al byna ’n gegewe dat die reservoirs in eMalahleni oor naweke leegloop.

Die afgelope naweek was weereens ’n bewys dat Emalahleni op ’n ramp afstuur. Die meeste van die mislikepaliteit se krane was kurkdroog.
Toe word daar tussen die gange gefluister dat die watersisteem as gevolg van beurtkrag nie die naweek gewerk het nie.
Dit sê vir my dat die persoon wat die mislikepaliteit se leisels in haar mooi gemanikuurde hande hou, nie die regte besluite neem nie, maar haar besluite op die gemeenskap baseer in plaas van besluite neem wat tot voordeel van die munisipaliteit se werkinge strek.
‘Kon-nie’ kon nie die druk hanteer toe die gemeenskap op haar toesak toe ’n plaaslike regsfirma slegte skuld begin invorder nie. Sy het ingegee en die firma die trekpas gegee. Nou betaal almal wat hulle wil, wanneer hulle wil en daar is nie geld vir basiese dienslewering nie.
‘Kon-nie’ kon ook blykbaar nie die druk hanteer toe die gemeenskap begin kla omdat net sekere dele van die stad beurtkrag kry nie.
Nou hier is ’n gratis lessie in basiese oordeelkunde: Jy kan nie beurtkrag toepas op die watersisteem nie. Die hospitale, klinieke en skole het water nodig. Jy meneer wat gekla het, deur jou onkunde het die hele mislikepaliteit nie water nie, want die reservoirs is leeg en dit vat twee dae om te stabiliseer.
Met die ‘eish’ wat klingel in sy Whiskey-glas, sug die Engelsman ’n diep sug en seg, “Ek kon-nie vandag die kar was nie, ek kon-nie die swembad skoonmaak en opvul nie en ek moes OK toe ry vir water vir die Whiskey, nét omdat ‘Kon-nie’ nie verder dink as wat haar gemeenskap haar voorsê om te doen nie.”
Tot ‘Kon-nie’ tot verhaal kom en vir die mislikepaliteit begin besluite maak, gaan daar nog baie ‘kon-nies’ in ons pondokkie plaasvind. My eerste verskoning sal wees ek ‘kon-nie’ vandag wasgoed was nie en dan ek ‘kon-nie’ kosmaak nie.
Dankie ‘Kon-nie’, jy maak my werk soveel ligter.
