Hawelose se dood ruk my binneste
Die dood van ’n hawelose het ’n frank smaak in my mond gelos omdat mense net nie meer omgee nie.
Flentertjie-gedagtes het die naweek vlerke gekry terwyl ek en die Engelsman bietjie gaan rus het.
Ons het ons waentjie gepak en by ’n plaaslike visvang paradys gaan kamp opslaan.
Onder die helderste sterre het ons kans gekry om ‘op te vang’ en te gesels oor alles wat die afgelope paar weke gebeur het.
Ek kan koerante vol skryf, maar ek mag nie my persoonlike mening neerpen nie en daarom het die Engelsman my klankbord geword.
Toe ek, sonder ’n soetetjie oor die lippe, maar met galonne lekker koffies agter die blad wegtrek, moes die Engelsman maar vasbyt en luister.
Eerste op my afpak-lysie was die motorkapings en my obsessie om my kuikens voor sonsondergang veilig in my nessie te hê.
Die Engelsman seg ek is neuroties, maar ek weet wat op die straat aangaan, want week na week vloei my ink oor nog ’n familie wat iemand aan die dood moes afstaan vir ’n kar of ’n selfoon.
Die sinnetjie, ‘my innige simpatie’ refrein deur my gedagtes terwyl ek nog ’n familie se storie op die voorblad sit.
Ek het trooswoorde, ek het nie antwoorde nie.
So nou en dan kry die Engelsman kans om sy glasie met whiskey en ‘eish’ te vul.
Dit gee my kans om asem te skep vir die volgende sarsie.
Iets wat my in my diep binneste geruk het was die dood van een van die haweloses so ’n week of wat gelede.
Joernaliste werk daagliks met die dood, maar dié een was anders.
Die man het onder ’n boom opgekrul in sy kombers gelê. Daar was nie omstanders nie, daar was verbygangers.
Mense het letterlik verbygeloop ‘tsk’ en ‘ag-shame’ gesê en voortgegaan met hul daaglikse roetine.
Wanneer het die menslikheid verdwyn? Wie is die man wat onder die boom gelê het, het hy nie drome en aspirasies gehad nie?
Ons wêreld is onderstebo en negatiwiteit lei ons in hinderlae van depressie.
Maar hoe skakel jy af?
Jy glip vir ’n naweek weg en sit jou selfoon af. Jy drink nog ’n koppie boeretroos onder sterre wat knipoog, jy gee ’n treë nader aan jou Skepper, jy luister hoe die jakkalse roep en die paddakoor ’n spesiale optrede vir jou doen.
Dis hoe jy afskakel, met dankbaarheid in jou hart dat jy nie onder ’n boom moet slaap en van al jou toekomsdrome beroof is nie en jy sê in die aand dankie vir die Here dat almal veilig by die huis is.
Het jy ’n storie om te vertel?
Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste:
Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitterof Instagram
