Sprokiesverhaal se hoofkarakter stel nuwe enkelsnit vry
Dié oud-inwoner van eMalahleni sê drome is nie abstrakte idees nie, maar dit kan waar word as vroue voluit lewe.
Moniqe Fiddes (30) is terug op die radiospeellyste met haar jongste enkelsnit ‘Because I am a woman’.
Met dié snit maak Moniqe ook haar terugkeer, na ’n tydperk van drie jaar, in die musiekbedryf.
Sy het gedurende die Covid-19 pandemie ’n vollengte album, ‘Colourful’, bekendgestel.
Musiekresensente het dié album geloof vir die ryk repertoire van liedjies wat onder meer opgewekte popliedjies tot stadige dansmelodieë ingesluit het.
Moniqe is ’n veelsydige liriekskrywer wat moeiteloos tussen verskillende musiekgenres beweeg.
Vir dié ma van drie beteken vrouwees om toegewyd te wees in alles wat jy aanpak.
“Selfvertroue maak ’n vrou sterk,” het sy vertel.
Moniqe het nie haar wortels vergeet nie.
Sy het in die destydse Witbank grootgeword en was by skoue en funksies gesien met ’n mikrofoon en kitaar in die hand.
Wanneer die eerste note val, het mense verbaas gestop en weer gekyk want dié klein lyfie het ’n groot stem.
Sy het soms net R1 000 per vertoning verdien
“ My gesin was baie arm en ons het soms net brood gehad om te eet,” het sy vertel.
Sy het op 16-jarige ouderdom die skool verlaat; nie net om haar droom vir musiek uit te leef nie, maar ook om brood en botter op haar gesin se tafel te sit.
“Ek is op skool ook vreeslik geboelie, maar ek het besluit om nie die teëspoed in my lewe as iets negatiefs te beskou nie. Ek het dit omgesit in iets positief.”
Moniqe se loopbaan in Suid-Afrika was egter nie besaai met rose van aanhangers of groot konserte nie.
Sy het dikwels van die een kuierkroeg na die volgende gereis om ’n paar rand te verdien.
Die wiel het egter vir haar gedraai toe sy op 16 ’n platekontrak losgeslaan het.
Sy het later ’n kursus in drama en uitvoerende kunste by die aktrise Brümilda van Rensburg voltooi, wat sy ook met onderskeiding geslaag het.
Almal onthou die begin van die feëverhaal toe Moniqe letterlik in die besigheidsmagnaat Matt Fiddes, wat ook Michael Jakson se lyfwag was, vasgehardloop het toe sy die Afrikaanse Musiektoekennings by Carnival City bygewoon het.
“Dit was liefde met die eerste oogopslag,” het Moniqe gesê.
Sy was net 19 jaar oud toe sy en Matt in eMalahleni getroud is.
Na langer as ’n dekade saam is hulle een van die bekendste paartjies in Brittanje en versier gereeld die voorblaaie van plaaslike tydskrifte.
Meer oor die nuutste enkelsnit het Moniqe gesê dit fokus op die sterk bande wat tussen ’n ma en haar kind, tussen susters en vriende gevorm kan word.
“Die doel van die liedjie is om vroue te inspireer om die beste weergawe van hulself te wees,” het sy afgesluit.
Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste.
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter of Instagram
HET JY GEWEET?
Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.
