Local newsNews

Een van die dae gaan Klipfontein Dam in eMalahleni weer pragtig lyk

Klipfontein Dam word herstel na vorige glorie deur André Smit in samewerking met wyksraadslid Kim Faduk.

Ontmoet André Smit, die man met die groot hart wat stilletjies sy eie geld, tyd en hande gebruik het om die Klipfonteindam weer te verander in ’n gerieflike plekkie vir die gemeenskap.

André verwag nie dat enigiemand hom bedank vir sy harde werk en goeie dade nie, hy soek beslis nie erkenning nie, maar soms moet dit gegee word aan mense wat dit regtig verdien.

André het uit sy eie sak betaal vir meeste van die skoonmaak- en herstelwerk wat hy in samewerking met wyksraadslid Kim Faduk by Klipfontein Dam  gedoen het.

Meeste mense wat al jare in eMalahleni woon, kan die dae onthou toe die dam ’n pragtige plek was om by te gaan piekniek hou en waar kinders heerlik in die natuur kon visvang.

Hy is ’n man wat al in sy sestigs is en wil hê dat die jong mense van vandag ook die dam kan geniet en herinneringe by die dam kan maak van rustige naweke onder die bome saam met familie.

Met mense soos André, wat só hard werk en só vrygewig is met sy tyd en arbeid, sal die dam hopelik weer sy voormalige glorie terugkry.

“Ek wil so graag hê dat die dam moet lyk soos hy 20 jaar gelede gelyk het. Ek geniet dit om die dam weer mooi te maak en hoop dat mense weer die dam sal kan kom geniet met hulle kinders soos toe ek ’n jong man was,” het hy opgewonde gesê.

Het jy ’n storie om te vertel?

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

  • Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
  • Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook, Twitter of Instagram

 

 

 
Back to top button