Gestremde moes op koue hospitaal sementvloer slaap

’n Gestremde man is glo op ’n koue sementvloer laat slaap nadat hy verlede naweek by Witbank Hospitaal opgeneem is.

Gideon de Beer se familie is biddend, en hulle pleit dat iemand moet ingryp om die haglike toestande by Witbank Hospitaal te ondersoek.

 

De Beer (55) is Saterdag, 4 Mei in die hospitaal opgeneem nadat hy ernstig siek geword het.

 

Hy is verstandelik gestremd.

 

Sy niggie, me. Magda Greyling het gesê die dokters het gesê hy het nierversaking.

 

“Ons het lank in die kamer gewag dat Gideon se bloeddruk en ander lesings geneem moet word. Na ’n lang ruk het hy ’n oranje plakker en ’n drip gekry en is vir bloedtoetse en x-strale gestuur,” het Greyling gesê.

 

Daar is klaarblyklik na ’n ruk vir haar gesê hulle moet buite die hospitaal gaan wag en hulle moes De Beer in die ongevalle-afdeling agterlaat.

 

“Gideon se ma is 74 jaar oud en ek kon nie dat sy so laat in die nag in die koue bly nie,” het Greyling gesê.

 

De Beer moes op ’n harde bankie en koue sementvloer slaap

Hulle het die volgende dag verneem dat De Beer se drip blykbaar deur die nag uitgekom het en daar was ook glo nie ’n bed vir hom beskikbaar nie.

 

“Maandag-oggend het ons Gideon op een van die harde bankies gekry waar hy gelê het. Hy was ontwater en het soos ’n geraamte gelyk. Ons het beddegoed, kos en drinkgoedjies saamgevat.”

 

Greyling het gesê toe hulle Dinsdag by die hospitaal kom, het hulle De Beer op die koue sementvloer in ’n hoekie gekry.

 

Daar is glo vir hulle gesê daar word gewag vir ’n bed by ’n nabygeleë sentrum.

 

Greyling het hom Woensdag, 8 Mei uit die hospitaal geteken.

 

“Ek het dadelik vermoed hy het ’n beroerte gehad, want sy gesig het skeefgetrek en sy reaksies was baie stadig.”

 

ER24 het dadelik gereageer op ’n noodroep en De Beer gestabiliseer

Donderdag-oggend moes ER24 inderhaas uitgaan om De Beer te stabiliseer en het hulle hom na Impungwe Hospitaal vervoer waar hy tans onder dokterstoesig is.

 

WITBANK NUUS het Witbank Hospitaal genader vir terugvoer en hulle het onderneem om so gou as moontlik terugvoer te gee.

 

Wat is jou opinie?

 

Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490

 

HET JY GEWEET?

Kliek op die woorde wat in kleur uitgelig is om meer te lees oor verwante temas.

 

Exit mobile version