In 2002 het White Rose Hospies hul deure oopgemaak vir dié wat hul die nodigste het in die gemeenskap – die wat op hul sterfbed is en niemand anders het om hul by te staan deur moeilike tye van siekte nie.
Na 22 jaar van mense stilletjies help en versorg, het White Rose Hospies nóú die gemeenskap se hulp nodig, en jy self kan ’n groot verskil maak aan die toekoms van hierdie organisasie.
WITBANK NUUS het opgevang met een van die hospies se pasiënte wat verduidelik het hoekom dit so ongelooflik belangrik is vir hulle om hul deure oop te hou. Daar is mense wat geen ander uitweg of opsies meer het, behalwe die hospies nie.
Daleen Droskie en haar man het alles verloor to hulle Lydenberg toe trek, en kort daarna het Daleen die tragiese nuus ontvang dat sy kanker het. Sy en haar man het hul pad terug gevind eMalahleni toe, maar in 2023, het haar gesondheid ernstig verswak. Hulle het nie geweet waarheen nie, want sonder reuse hope geld, waar gaan ’n mens?
Dit was toe dat Daleen en Barbie McCue se paadjies gekruis het, soos die Here dit sekerlik beplan het. Barbie is ’n versorger vir White Rose Hospies, en sy en Daleen het onmiddellik oor die weg gekom. Al die versorgers wat vir die hospies werk, is eintlik nader as familie aan hul pasiënte, want hulle deel alles met mekaar. Niemand sal kan besef die groot impak wat versorgers het op die lewenskwaliteit van hul pasiënte nie, maar om te help beter verstaan, vertel Daleen vir ons meer oor hoeveel Barbie in haar lewe beteken.
“In Junie laas jaar het ek baie siek geword. My man moes werk en kon nie by die huis bly om agter my te kyk nie. Ek was alleen, verlore en sonder hoop. My wêreld het ’n diep, donker plek geword. Ek het gebid vir die Here vir ’n uitweg. Die Here het my gebede beantwoord op die grootste manier. Toe stap Barbie in my lewe in. Ewe skielik was daar weer sonskyn en hoop in my lewe. In September 2023 het dinge baie skeef begin loop en ek het opgeëindig by Witbank Hospitaal. Die hospitaal kon my nie verder behandel nie. Ek was in ’n koma en op die rand van die graf gewees, maar Barbie het geweier dat ek moed opgee. Sy het my lewe gered. Sonder dat enigiemand haar vra, net uit doodgewone liefde uit, het sy reëlings getref dat ek Santa toe gaan, waar ek vandag weet, my lewe was gespaar. As ek by die hospitaal gebly het, sou ek nie vandag my storie kon vertel het nie.”
“Barbie het alles wat ek nodig gehad het gedoen en beplan. Ek het nie ’n vinger gelig nie. Al wat van my verwag was, was dat ek aanhou baklei om te lewe. Al wat Barbie ooit van my verwag, is dat ek sien hoe sterk ek is en aanhou sterk wees. Elke kans wat sy kry, help sy my besef hoe belangrik en spesiaal ek is.”
“Sy is die liggie van my lewe. Ek kan nie sonder haar klaarkom nie. Dit gaan nie net oor die mediese dingetjies wat sy vir my doen nie. Sy is my beste vriendin, spesifiek gestuur van die hemel af vir my. Sy weet ook al hoe om my te lees, en maak nie saak wat ek probeer nie, vir haar is ek ’n oop boek. Sy weet presies wat ek nodig het, al sê ek nie ’n woord nie. Die kleinste behoefte, van my kankerbehandeling tot iets so klein soos ’n koppie koffie en ’n skouer om op te huil, is nooit te veel gevra nie.”
“Hierdie is Barbie se Godgegewe roeping. Sy is definitief ’n engel, ek soek nog net haar vlerke. Sy gee werklik om vir al haar pasiënte. Sy is nie my versorger nie, sy is my gesin. Daar is niemand behalwe die Here wat nader aan my hart is nie. Hoe sê mens dankie aan iemand soos Barbie?” het Daleen gesê van Barbie.
In Daleen se oë kan mens sien dat haar versorger al deur dik en dun met haar is. Daleen het verder gepraat van tye wat sy nie haar morfien kon kry nie, en uit haar eie uit het Barbie vir haar voorraad gekry.
Die versorgers en bestuurder van White Rose Hospies is onbesonge helde vir baie mense wat deur diep, donker tye van pyn, hartseer en siekte gaan. Maar vandag staan hulle op die punt van hul deure toemaak. Elke maand kom hulle kort met geld om salarisse en die lewensbelangrike mediese uitgawes te dek.
Op die huidige oomblik benodig hulle dringend borge of donasies van doeke vir volwassenes, rolle pleisters, gaas, Aqueous room, latex handskoene of iemand met ’n goeie hart wat aan van hulle voertuie kan kom werk.
Daar is mense wat regtig swaar gaan trek, en alleen, in pyn en sonder enige hulp by die huis gaan sterf in verskriklike omstandighede sonder hierdie hospies.
As jy dit in jou hart kan vind om ’n donasie te maak, kontak asseblief vir Magda Esterhuizen by 079 084 8743 of maak ’n donasie direk aan hulle.
Nedbank: Die Heuwel, rekeningnommer 158-544-0914, takkode 158550.
Elke bietjie help, en wie weet, dalk is dit jy of iemand in jou gesin wat hulle eendag nodig gaan kry.
Het jy ’n storie om te vertel?
Stuur vir ons ’n epos na info@witbanknews.co.za of bel ons by 013 656 2490
- Vir meer brekende- en gemeenskapsnuus, besoek gerus ons webtuiste: www.witbanknews.co.za
- Jy kan ons ook volg op sosiale media platforms: Facebook Twitter of Instagram