Wat gebeur as die sirenes stil word en die ongelukstoneel is opgeklaar?
Witbank Nuus het Vrydagaand saam met ’n plaaslike insleepdiens gery om ’n kykie in die wêreld te kry waar seer en humor hande vat.
Die ‘oorlog’ tussen die insleepdienste het die afgelope paar weke hoofopskrifte gemaak.
Lesers het behoorlik ingeklim en hul opinies gelug oor insleepdienste in geheel.
Maar, agter die grynslag van die enjins wat brul, die hoë spoed en die baklei lê daar ’n storie van onsigbare trauma, seer en ’n onbreekbare band wat gesmee word tussen die ‘aasvoëls’ van die pad.
Na ’n video van ’n vuisgeveg tussen die insleepdienste soos ’n veldbrand oor sosiale media versprei is, het WITBANK NUUS Vrydagaand die ander kant van insleepdienste gaan soek.
Ons het ingeklim, letterlik – om te sien wat gebeur regtig op die pad.
Die sekelmaan het groot reën voorspel en tog het dit motoriste nie by die huis gehou nie. Die paaie was ontsettend besig.
Eie aan eMalahleni is die stopstrate en verkeersligte ‘onsigbaar’ in die aand vir menige motoris.
Binne in die kajuit, het die reuse-enjin van die insleeptrok eers saggies, amper vertroostend, soos ’n huiskat begin ‘purr’.
Maar met die eerste trap op die versneller, het ’n skokbesef deurgejaag, onder die enjinkap skuil 650 perdekrag wat sonder inspanning menige trok en kar weggesleep het.

Mndeni slaap met sy skoene aan, net ingeval …..
“Die enjin se ‘gesels’ bêre my eina,” het Mndeni Ngwenya gesê.
Hy ‘sleep’ al 15 jaar trokke.
Sy volgende woorde het die diepste wond oopgemaak: “Mense dink ons is aasvoëls. Dat ons net wag vir die tragedie. Ons is nié. Ons is eerste ‘responders’. Dis ék wat eerste op daardie toneel kom, in daardie verwoesting. En partykeer moet ek net hulpeloos toekyk as die familie opdaag. Dis oukei as daar niemand op die toneel is nie, maar as die familie kom, is dit nie meer net ’n werk nie, dan is dit realiteit.”
“Ek weet nie hoe om te troos nie.”
Die seer het ’n sluier oor sy oë getrek en vir ’n oomblik was dit stil in die kajuit, asof selfs die 650 perdekrag ’n laaste eer wou betoon.
“Ek probeer vrek hard om nie te huil nie, maar ek sê jou, binne my is dit stukkend.”
Die man, ’n pa van vyf, het vertel van die aande wat die beelde hom vir dae lank uit die slaap hou. Veral die kinders op ’n ongelukstoneel. Die babaspeelgoed, die remmerke, die stukkende glasstukke, die reuk van olie en ook bloed…
SIEN DIE TIKTOK VIDEO VAN DIE ONDERHOUD HIER
Terwyl hy nog ’n sigaret aansteek het hy oor die N4 gekyk en vertel hoe ’n ma en ’n kind oorleef het, net om oomblikke daarna te sterf.
“Ons was geroep en die mis het dit bietjie moeilik gemaak om te kan sien. ’n Ma en ’n kind was in ’n ongeluk. Ek was so bly om te sien hulle het oorleef. Ons het net die kar gehaak toe ’n trok skielik vanuit die mis op hulle afgery kom en hulle doodry.”
“Was jou lewe al in gevaar,” was die volgende vraag.
“Ek het ’n Jesus-location. Daar was al baie insidente wat ampertjies my lewe gekos het, maar dis nog nie my Jesus-location gewees nie.”
Vir die man wat met skoene aan slaap omdat dit kosbare minute gaan spaar, het die N4, N12 en die R555, R547, R544 ’n dagboek geword waarin name in bloed opgeteken is.
‘God is met ons’
“UNkulunkulu uyasinakekela,” het Tommie Potgieter die gesprek hervat.
Hy het die oorverdowende stilte gebreek, sy woorde ’n anker in die chaos.
“God is met ons. Dis die enigste manier hoe ons kan ‘oorleef’,” het die man, wat selfs Zoeloe magtig is met ’n diep erns gesê.
Die pyn is nie iets wat verdwyn elke keer as ’n wrak afgegee word nie.
“Ons berg ons seer op. Die ‘aasvoëls’ se harte is so klein. Op elke ongelukstoneel los ons ’n stukkie van onsself agter. Dit bly net daar, in die verkreukelde staal en die gebreekte glas.”

Tommie, ’n veteraan op die pad, het die gordyn effens verder oopgetrek en eerlik gesels oor die rou, bloeiende sielkundige tol wat bly hang lank nadat die sirenes finaal stil word.
“Daar is ’n stilte in elkeen van ons, ’n gaping waar lewe moes wees,” het Tommie erken.
Hy het by Mndeni se woorde aangesluit en verduidelik dat elke noodoproep aanvanklik net ’n ‘job’ is, nog ’n sleep – totdat die menslike element opdaag. Totdat die emosie inskop.
“Jou tassie begin vol raak, gelaai met al die trauma en die hartseer,” het hy bygevoeg. “En so nou en dan móét jy van daardie bagasie aflaai. Die belangrikste is: waar ons dit aflaai?”
@witbanknews Insleepdienste deel van hul ervaring op die pad #witbanknews #towingandrecovery #roadtrauma #towingtiktok #trauma ♬ original sound – witbanknews
Twee linkerhande breek die stilte
Vir Tommie en Mndeni is humor soms die enigste ‘çoping mechanism’, die muur teen die oorweldigende wreedheid van die werklikheid.
So het hy dié staaltjie gedeel, “Ons was op ’n toneel waar twee voetgangers omgery is. Die reël is, niemand verlaat die toneel totdat al die liggaamsdele bymekaargemaak is nie.”
Met ’n glimlag wat nie in sy oë weerspieël nie, het hy vertel: “Ek het ’n hand opgetel en dit vir een van die paramedici gegee. Die man se gesig! Ek sal dit nooit vergeet nie. Hy het droog gesê, ‘Wat de moer moet ons met twéé linkerhande maak?’”
In hierdie oomblik van galgehumor vind die ‘aasvoëls’ die klein pouse om net weer asem te haal, ’n sigaret op te steek en weer in die bed te klim skoene en al, slaggereed vir die volgende oproep.
*Zita Goldswain is ’n redaksielid van Witbank Nuus en is die nuusredakteur van die publikasie. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Witbank Nuus nie.
