Skoonsuster weer in hof – saak uitgestel
Die vrou wat verdink word van die moord op haar swaer, Willie Visser, het geglimlag toe sy haar man, Sam Vice, sien.
Melissa Vice het weer vanoggend in die Witbank-landdroshof verskyn op ’n aanklag van moord.
Die 29-jarige vrou word daarvan verdink dat sy haar swaer, Willie Visser, op 16 Desember vermoor en sy liggaam by die Seekoeiwater plotte gestort het.
Vice, geklee in ’n denimbroek en kamoefleerbaadjie het ontspanne voorgekom en geglimlag toe sy haar man, Sam Vice, sien.

Visser moord. Melissa Vice word vanoggend weer in die Witbank Landdroshof verwag.#wtbnews #melissavice #skoonsuster #Witbanknews
— WitbankNews (@WitbankN) January 14, 2026
Landdros Matome Seima het die saak uitgestel tot 29 Januarie.
Vice se regsverteenwoordiger, Koos Harmse, het aangedui dat hy dan formeel borgaansoek gaan doen.
Hy het ook gesê hy het aangevra vir die lykskouingsverslag sowel as Vice se verklaring.
Buite die hof het Visser se ma, Kariena Visser, gesê haar seun se begrafnis het gister plaasgevind.
“Dit was baie erg om hom finaal te groet,” het sy gesê.
Visser se weduwee, Vanessa Visser was vandag vir die eerste keer in die hof.
Sy was sigbaar oorweldig deur emosie en het kortliks aan die media gesê dat sy op hierdie stadium ‘net haat’ voel.
*Vice wat op 24 Desember gearrsteer is, is steeds in aanhouding.
Nuus wat saak maak … Volg WITBANK NUUS op ons webtuiste, Facebook, Twitter, Instagram of TikTok
Gesels met ons: info@witbanknews.co.za
