Ermelo ongeluk – pa van 3 vandag finaal gegroet
Danie Greyling sou volgende week sy 31ste verjaarsdag gevier het. Die pa van drie is vandag ter ruste gelê.
Die pa van drie jong kinders wat verlede week in ’n ongeluk net buite Ermelo dood is, is vandag finaal gegroet.
Danie Greyling se gedenkdiens is vanoggend in New Life Church gehou.
Greyling is op 3 Maart opslag dood in ’n ongeluk wat op die N2 sowat 10km buite Ermelo gebeur het.
Pa van 3 sterf in ongelukhttps://t.co/aZrJaBk3Sq #witbanknews #localnews #DanieGreyling #accident pic.twitter.com/Ys6ujSInbX
— WitbankNews (@WitbankN) March 5, 2026
Volgens die Highvelder het nooddienste kort na 04:00 na die toneel gejaag, waar hulle Greyling en ’n trok aangetref het.
LEES MEER HIER: One dead, one injured in early morning crash on Piet Retief Road near Ermelo
Hy was op pad terug van Piet Retief van die werk af toe die ongeluk plaasgevind het.
Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie.
LEES MEER HIER: eMalahleni man dood in ongeluk buite Ermelo
Greyling se lewensmaat en die ma van hul drie kinders Duan (10), Amone (7) en Line (3), Angelique Bezuidenhout het dié boodskap op Facebook geskryf:
Die tyd stap nader wa ek jou moet groet, engel, hoe doen ek dit na 12 jaar? Ek voel verlore, engel. My lief, ons mis jou meer as wat woorde ooit kan beskryf.
Die stilte wat jy gelos het in ons lewens en in ons harte is onbeskryflik groot.
Maar jou liefde, jou lag en alles wat jy vir ons was sal vir altyd saam met ons bly.
Jy sal altyd deel wees van ons.
My hart is in stukke.
Ons het drie wonderlike kinders saam, en ek belowe vir jou ek sal mooi na hulle kyk.
Ek sal sterk wees vir hulle en elke dag my alles gee om die beste mamma vir hulle te wees.
Hulle mis jou so baie my liefste…
Greyling se ma, Kotie, sy pa Herkie, broer Barko, skoonsuster Christelle en Angelique was ontroosbaar tydens die diens.
Greyling sou op 17 Maart 31 jaar oud geword het.
Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,
Volg ons op website Facebook X Instagram or TikTok
Epos: info@witbanknews.co.za
