Local newsNews

Shariska Potgieter

Die uurglas wag nie en September kom vinning nader. Shariska Potgieter kort nog baie om die Europese hokkietoer te befonds.

Om jou land in die buiteland te gaan verteenwoordig, is enige jong atleet se grootste droom.


Vir Shariska Potgieter, ’n hokkiespeler van HTS, het hierdie droom ’n werklikheid geword toe sy gekies is om die Knights-hokkiespan te verteenwoordig in die opkomende Europese toer.


Shariska kry die kans om Nederland en België in September te gaan verken terwyl sy doen waarvoor sy baie lief is – hokkie speel.


Toe die nuus breek dat sy in die span opgeneem is, was dit asof tyd stilgestaan het.


“Ek het ongelooflik opgewonde, trots en amper sprakeloos gevoel toe ek hoor ek is gekies om die Knights-hokkiespan in die buiteland te verteenwoordig,” het sy vertel.


“Dit het gevoel soos een van daardie ‘wow’, dit gebeur rêrig-oomblikke”! Dit is ’n groot eer vir my om my span oorsee te kan verteenwoordig, en dit maak my baie dankbaar vir almal wat my nog altyd ondersteun het. Vir my wys dit ook dat harde werk, opofferings en deursettingsvermoë regtig beloon word, en dat mense jou raaksien wanneer jy alles gee waarvoor jy lief is.”



Wat gaan Shariska inpak?

Ons het vir Shariska gevra wat sy buiten haar hokkiestok eerste in haar tas gaan pak.

Eie aan ’n tiener was haar antwoord, “My foon. Ek gaan soveel moontlik foto’s en video’s wil neem om al die spesiale herinneringe van die toer vas te vang. Ek wil elke oomblik onthou – van die hokkiewedstryde tot al die nuwe plekke wat ons gaan sien. Dit gaan ook vir my baie belangrik wees om met my familie en vriende in kontak te bly en my ervaringe met hulle te deel.”


Hierdie is nie ’n solo-reis nie. Vier van haar Knights-spanmaats gaan die vliegtuig saam met haar klim.


Om die toer saam met vriendinne mee te maak, verander dié toer in ’n stukkie lewensreis en die kans om herinneringe saam met haar drie vriendinne op te bou.


“Dit beteken ongelooflik baie vir my om hierdie groot avontuur ook saam met drie van my spanmaats aan te pak wat saam met my gekies is. Ons het al soveel saam beleef op die hokkieveld, en nou kry ons die geleentheid om saam nuwe herinneringe te maak in ’n ander land. Ek dink dit gaan ons vriendskap nog sterker maak en dit is ekstra spesiaal om hierdie droom saam met mense te deel wat dieselfde passie en liefde vir hokkie het soos ek. Ons gaan mekaar ondersteun, saam groei en elke oomblik geniet.”


Wat die Europese koskultuur betref, het Shariska dit duidelik gestel sy is nie braaf genoeg om die tradisionele Nederlandse rou haring te proe nie, maar sy gaan ’n punt daarvan maak om ’n regte Belgiese wafel te eet.

Shariska het eMalahleni se hulp nodig om haar droom te bewaarheid

Daar word fluks warmbrakke verkoop en jy sal Shariska en haar familie gereeld by geleenthede sien waar die lekkerste poedings verkoop word om die R69 990 bymekaar te maak.


Maar die tyd loop vinnig uit en daar is kostes wat gedek moet word.


eMalahleni word gevra om op Shariska se BackABuddy skarebefondsing te kliek en ’n bydrae te maak om dié jong hokkiester in aksie te sien teen die Europese spanne.


“My boodskap aan elke persoon wat ’n bydrae maak, groot of klein, is ’n groot baie dankie uit my hart uit. Julle ondersteuning beteken meer as net geld, dit gee my hoop, motivering en die kans om my droom te volg. Elke bydrae help my om nader aan my doel te kom en wys vir my dat daar mense is wat in my glo. Ek waardeer elke persoon se hulp opreg en sal my beste gee om hierdie geleentheid trots te maak.”

Kliek hier vir Shariska se BackABuddy skakel.

Your city, your story, as it happens. Stay in the loop with WITBANK NEWS.
Find us on our  websiteFacebookX,  Instagram or TikTok

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button