Local newsNews

“Ek het die glasstukkies uit die tannie se oë gehaal”

Die ongeluk in eMalahleni waarin Louise Stoltz (66) Sondag oorlede is, het selfs insleepdiensbestuurders laat huil.

Die botsing waarin Louise Stoltz (66) Sondag oorlede is, het selfs geharde insleepdiensbestuurders laat huil.


Die botsing het reg voor Marius Botha, eienaar van MMS Towing, gebeur.


Hy het aan Witbank Nuus vertel dat die gebeure oor en oor soos ’n rolprent voor hom afspeel.

“Ons was op pad in OR Tambostraat om regs te draai in Van Rensburg-straat. Daar was ’n kar tussen my en die oom se bakkie. Die oom wou ook regs draai in Van Rensburg-straat. Die verkeerslig was groen en die oom het gedraai en ’n Audi het in sy bakkie vasgery. Die verkeerslig was groen vir albei karre. Die impak was solied op die tannie se kant,” het Botha vertel.

“Ek het nie eens aan die karre gedink nie; ek het onmiddellik na die tannie toe gehardloop. Die oom het vreeslik gebloei en die tannie was in die bakkie vasgekeer,” het hy gesê.


SIEN DIE VIDEO VAN DIE BOTSING HIER (Video verskaf deur Marius Botha).

Botha het dadelik op die Zello-kanaal ingeroep vir hulp.

“Die tannie het haar oë oopgemaak en vir my gekyk. Ek het die glasstukkies uit haar oë gehaal terwyl ek heeltyd met haar gesels het.”


Stoltz en haar vriend, Sakkie Oberholzer, is albei na die Life Kosmos-hospitaal vervoer, vanwaar Stoltz na die Witbank-hospitaal oorgeplaas is.

“Ek was by Witbank-hospitaal, maar ons is nie toegelaat om in te gaan nie. Ek het later gehoor die tannie is oorlede en dit breek my.”

Lees meer Oudinwoner sterf ná tragiese botsing


Botha kon nie die hartseer uit sy stem hou nie en het gesê hierdie botsing is een wat hom altyd sal bybly.


Hy het gesê die mense wat hulp verleen het, was engele.

“Een insleepdiens ná die ander het op die toneel opgedaag en sonder ’n woord begin help. Die ambulansdienste was uitstekend en vir die SACCW-span wat gehelp het, het ek net lof. Om almal so te sien saamwerk, was iets om te aanskou,” het Botha gesê.


Hy het sy innige simpatie teenoor Stoltz se familie betuig.


*Witbank Nuus wag nog vir terugvoer om te hoor hoe dit met Oberholzer gaan.

Jou stad, jou storie soos dit gebeur. Bly op hoogte met die jongste nuus met WITBANK NUUS,

Volg ons op  website, Facebook, X,  Instagram or TikTok

Epos: info@witbanknews.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Zita Goldswain

News Editor at the Witbank News Caxton stable. Witbank News has been my ‘home’ for the past 24 years. Journalism is the ability to meet the challenge of filling the space true words said by Rebecca West. I meet challenges, get the better of them and fill space with true words.
Back to top button