Eish-man-eish
Hierdie plattelands stadjie van ons lyk my is net nie belangrik genoeg nie.Vir ons is dit ’n alledaagse norm om nie water of elektrisiteit te hê nie.

Inwoners van Emmawillielênie trek nie eers meer hul wenkbroue op as die krane roggel of jy die ligskakelaar aansit en daar gebeur absoluut niks nie.
Dit het aanvaarbaar geword om ’n dag of twee terug na ons primitiewe leefwyse terug te keer en soos ons oumas wat kaalvoet oor die Drakensberg getrek het, vuur te stook vir etes en om water te kook vir ’n bad.
Maar laat dit nou in Gauteng gebeur. Ek en die Engelsman was verlede naweek onderweg om ietsie te gaan kry om te eet en het nuus geluister. So is daar die hele dag lank uitgesaai dat dele van Kemptonpark sonder elektrisiteit sou wees. Elke paar minute het die uitsaaier gesê daar word aan die probleem gewerk en inwoners moet asseblief net geduldig wees.
“Die munisipaliteit waarsku dat die elektrisiteit na sekere dele van die netwerk dalk vroeër of selfs later as die vermelde tyd herstel kan word,” het die uitsaaier se stem oor die radio weerklink. As daar ’n wateronderbreking in die area is word daar voorsiening gemaak met watertenk-waens wat die rondte doen.
Hier in onse plattelands stadjie is inwoners aan hul eie genade oorgelaat. Jy kry nie eers kans om voor te berei vir ’n kragonderbreking nie.
In ons pandokkie krap ons in die yskas rond op soek na iets om ’n ete van te maak. Hier en daar begin goed in die vrieskas stadig ontdooi. Die stilte in ons pandokkie wil ons verwurg, al wat hoorbaar is, is die buurman se kragopwekker wat in die verte dreun.
Die gelukkiges trek die gasstofies nader, ander probeer hout by die naaste kafee te kry om te braai as die krag nog nie vanaand aan is nie.
By die reservoirs begin ingenieurs rondskarrel, die watervlakke daal vinnig, met geen manier om dit aan te vul nie. Die pompe staan spookagtig stil.
Donker daal neer oor Emmawillielênie. Die heerlike reuk van braaivleis omvou dié plattelandse stad – ek dink ons stad het beslis die beste braaiers in die land, hulle kry baie oefening.
Die buurman se kragopwekker gee so ’n laaste sug toe is hy ook stil. Die brandstof is klaar en met die brandstofpryse wat die hoogte ingeskiet het, raak almal maar suinig om die kannetjie weer te gaan vul.
Vir die Engelsman is die knetterende vuurtjies en die stories wat daarom vertel word die hoogtepunt, maar kyk die feit dat die vrieskas nie werk nie, maak hom boos. Die ‘eish’ smelt en dit het weer ’n reusagtige effek op die smaak van sy whiskey.
Dis wanneer ek maar net omdraai en glimlag, want ander kla oor die gevriesde groente en vleis wat hulle gaan verloor, ander kla oor die rugbywedstryd wat hulle mis en my Engelsman – hy kla net oor ‘eish-man-eish’.
