Kunsgebit en gom konsternasies
Die Engelsman het my gestuur om vir hom gom vir sy kunsgebit te gaan kry. Dis mos maklik in by die apteek, kry die goedjies van die rak af en betaal. Maar dis juis hier waar die probleem ontstaan het.

Die jaar het sowaar met ’n bietjie humor uit die wegspringblokke begin. As daar nou een ding is wat ek die meeste van die Engelsman waardeer is dit sy manier om die lag uit die lewe te soek en baie hard saam te lag.
Van die aan wie ek al die storie vertel het, het so hard saamgelag dat hul valstande sommer die tango gedoen het.
En dis juis waar die storie vandaan kom.
Die Engelsman het my gestuur om vir hom gom vir sy kunsgebit te gaan kry. Dis mos maklik in by die apteek, kry die goedjies van die rak af en betaal. Maar dis juis hier waar die probleem ontstaan het. Daar was nêrens van die gom te vinde nie. Ek was by elke apteek, by elke gesondheidswinkel, by elke plekkie waar jy die gom kon koop, maar daar was niks, nie eers een verlore ou buisie op die rakke nie.
Ek voel soos ’n generaal wat ’n beplande inval moet afweer en die Engelsman het in alle erns begin ‘Google.
Die tande-ding beïnvloed selfs die beplanning vir aandete.
Ek is al lankal so lus vir ’n varsgeplukte mielie, maar ek durf nie waag om dit te noem nie. Ek onthou so goed eenkeer in ’n restaurant het ’n ou tannie ’n lekker mielie, bedruip met egte plaasbotter en Aromat, gehap en daarmee gesorg het vir konsternasies. Sy het behoorlik gekwyl in afwagting na die lekkerte. Maar die valstande, al los op die uitgewerkte tandvleise, wou nie saamwerk nie. Toe sy die mielie uit haar mond haal, toe grynslag daai einste valstande vir haar terug. Sy het so groot geskrik, sy het daai mielie met die valstande nog aan, gegooi dat dit doer trek.
Die arme kelner het die tande met ’n servetjie opgetel en vir die tannie teruggegee.
Mielies vir aandete, nie nou nie.
Dit werk toe so uit dat ons die naweek moet Kriel toe ry.
In ’n grap sê ek vir die Engelsman, wat nou al teen die tyd erg bekommerd is oor die gom situasie, ons moet in Kriel se winkels gaan rondkrap, miskien kry ons dit daar.
Soos die geluk dit wil hê, met die wat ons by die winkelsentrum stop kom ’n dame uitgestap met ’n stuk biltong in die hand. Sy suig daai biltong met haar tandvleise dat dit sommer so blou word.
Die Engelsman het ook die vrou raakgesien en seg ‘Ons is dalk gelukkig, want hier in Kriel sit hulle nie hul tande in nie.”
So wrintiewaar toe ons by die eerste winkel instap daar knipoog die buisies tande gom vir ons.
Die Engelsman het soos blits al die gom op die rak opgeraap en vasgeklem asof hy bang was iemand soek ook van die gom.
Met die kunsgebit weer stewig vas, en die ‘eish’ want rinkel in die glasie whiskey seg die Engelsman, tong in die kies,” Dankie tog Kriel is so neffens agter die tyd, daar kry jy darem nog tande gom!”
