
Die Engelsman het die afgelope naweek hard aan sy ysterperd gewerk om die ‘dametjie’ te tooi vir die komende motorfietsbyeenkoms.
So teen vyf uur Saterdagmiddag toe is hy nou al lekker lus vir ietsie om aan te kou en sit gou af garage toe om ’n versnaperingtjie te koop.
Met die wat hy weer die bakkie inklim val sy beursie uit. By die huis aangekom fynkam hy daardie bakkie van hoek tot kant. Hy het alles uitgehaal, geswets, weer alles uitgehaal en weer gekruide taal uitgespoeg.
Die volgende oomblik spring hy in die bakkie en jy sien net stof spat soos hy die draai met net twee wiele op die grond vat.
Die arme dametjie by die garage loop deur want nou ‘ref’ die Engelsman mooi in die rooi in.
Terug by die huis soek hy verwoed na die beursie, sy bloeddruk styg, sy asemhaling raak al hoe vlakker.
Nie eers ’n whiskey met ‘eish’ in help nie. Die bloeddruk die bly hoog.
Moedeloos gaan sit hy en dit lyk of hy wil huil. Sy bankkaart het hy gou gestop, maar nou lê die berg van die lisensiekaart, sy mediesekaart en al die ander voor hom.
As jy vandag vir ’n nuwe lisensiekaart gaan moet jy maar jou piekniekmandjie inpak en bid dat die ‘eish’ nie smelt voor jy daar voor kom nie.
In alle geval, die volgende oomblik klop iemand aan die voordeur. ’n man en vrou hou die Engelsman se beursie na hom toe uit.
Hulle sê hulle het gesien toe sy beursie uit sy sak val en het probeer om sy aandag te trek, maar hy kyk net vorentoe, nie links of regs nie.
Die vrou sê toe sy is so jammer, sy moes in die beursie krap om te kyk of hulle die Engelsman se adres kry. Gelukkig was die Engelsman se adres in sy beursie.
Die Engelsman klou nou vir ’n vale aan daai beursie.
Later daardie aand sit hy met ’n glasie ‘eish’ en sy whiskey, nou seg hy dis om sy beursie se tuiskoms te vier, hy lig die glasie en sê: ‘Op daardie twee mense wat my beursie teruggebring het, baie dankie. Julle verdien ’n Bells!’
Later die aand sit ek en my beste vriend, koppie koffie, en ek speel weer die dag se gebeurtenis voor my af.
In die stille kamers van my hart word ek oorval met die vrae oor waar, wanneer en hoe word mense dan sleg? Soms wanneer jy in stilte luister kry jy antwoorde.
Ek glo nie mens word so gebore nie, ek wonder of die ‘tyd’ waarin ons lewe hulle dan sleg maak. Ek weet nie hoekom mense steel, vermoor en verkrag nie.
Ek gaan deur ’n proses waar ek terugkyk en tasse aflaai op onthou se treinstasie. Ek kies om die tas waarin die goeie mense wat die Engelsman se beursie teruggebring het nog ’n rukkie by my te hou want hulle het my geloof in die mens weer herstel.
