
Daar is ’n plek en tyd vir als, en dan is daar die platform waarop ek hard kan praat, my siel kan skoonmaak, my sê kan sê.
Ek en die Engelsman het vroeër die week weer ons ‘eish’ en ‘soetetjie’ saam gedrink op ons pondokkie se stoep, terwyl die voëls hul kos kom soek.
Vir die soveelste keer was ons gesprek oor dieselfde gesprek wat die meeste inwoners van die stad elke aand het.
Emmawillielênie is verkrag, het hy geseg.
Die stad is in pyn, sy huil traanloos oor die toestand van haar paaie, haar elektriese netwerke wat ingee, haar watertoevoer wat steun en kreun terwyl dit gedruk word om net meer en meer water te voorsien. Sy is geknak, op haar knieë gedwing terwyl die houe, van industrieë wat hul deure sluit, op haar neerreën.
Die eens pragtige Hoëveldstad se menswaardigheid is gestroop.
Nou kom die ekonomiese effek van onder andere Highveld ook by, die verkragting begin weer van vooraf.
Nagenoeg 2 224 Highveld werkers weet nie waar hul volgende ete vandaan gaan kom nie, hulle maak staat op kospakkies.
Dié lewensaar het nie net Highveld werkers afgesny nie, maar ook 13 000 ander werkers en afhanklikes wat vir 600 verskillende Highveld-diensverskaffers gewerk het.
Die seer bloei nog, die rippeleffek is besig om uit te kring. Daar is reeds melding gemaak van die dramatiese toename in selfmoordpogings. Alkoholmisbruik en depressie is besig om meer en meer slagoffers te eis. Gesinsgeweld neem toe, kinders sien hoe hul ouers meer en meer baklei, die sosiale wanbalans kantel.
Ek sien hoe eMalahleni verarm. Ekonome voorspel ’n ekonomiese val van tot R5 miljard ’n jaar.
Daar bo êrens in die politieke sale is Highveld se toekoms reeds bepaal, die lyntjie is getrek.
Emmawillielênie, maar sy word gedwing. Highveld se werkers en kontrakteurs kan nie hul rekeninge betaal nie, hul huise en voertuie word verkoop, en hul munisipale dienste rekeninge is die laaste waaraan hulle nou dink terwyl hulle spartel om bo te bly.
Daar gaan nie gou ‘pleisters’ gekoop word om die stad se wonde toe te plak nie.
Terwyl ek Sondagoggend die Paassondagdiens bygewoon het, het die son wakker geword, sy ligstrale oor die stad gegooi en die donker weggejaag. Dit gee my hoop, dié donkerte waarin die eens pragtige stad nou is sal ook weggaan wanneer die son opkom en haar omhels met lig.
Tot dan toe bly ons op ons knieë in gebed.
