
Vanoggend voel ek soos ‘n uitgedroogte wynbottel kurkprop wat maande lank aan die Kalahari-son blootgestel was.
Ek kyk met skrefiesoë na die Engelsman wat salig hier langs my lê en snork – salig en onskuldig soos ‘n babatjie. Maar, hoe ek voel is alles sy skuld.
Alles het gisteraand, toe ons vroegaand voor die TV gesit het, begin. Terwyl hy vir hom nog ‘n knertsie met water geskink het, het hy gal afgegaan oor die TV programme wat deesdae alles herhalings is. En boonop het sy rugbyspan ook nog verloor.
Toe kom hy met sy slim idee. “Kom ons ry Johannesburg toe. Ons gaan soek ‘n kuierplek en geniet die aand.” En 15 minute later is ons op Jozi toe. Na ‘n gesoekery vir ‘n kuierplek beland ons by ‘n plek genaamd Saxon Sjebeen. Met die intrapslag word ons sleg uitgekyk. Dit was oor ons kleredrag. Ek nog in my werksklere en die Engelsman met ‘n gholfhemp en jeans. Dit het sleg afgesteek teen die ander mans se deftige pakke en vrouens se ontwerpersrokke. Die mans was seker maar groot besigheids-kokkedore dink ek by myselwers. Dit blyk toe later, nadat ‘n kelner ons aan sommige van hulle voorgestel het dat van hulle ministers is. Maar, soos ons aan hulle voorgestel word het ek agtergekom dat hulle vroulike metgeselle nie hulle vrouens kon wees nie, want hulle het anderste vanne gehad, en die drank is op die huis.
Chivas Regal en Johnny Walker het nie geloop nie, dit het strome gevloei soos die Nyl in vloed.
Later is ons aan die bestuurder voorgestel, bekend as Number One. ‘n Korterige vet mannetjie met ‘n kaalkop wat lyk asof hy so pas gestort het. Hy het die heeltyd gegiggel en ge-‘he he he’. Ons is ook vertel dat die aand gereël is om die drie eienaars wat iewers in die Ooste was, se terugkoms te vier. Hulle vliegtuig het glo so pas op Waterkloof geland en hulle is op pad na die sjebeen.
Omdat dit nou al laterig was en die Engelsman ver verby sy kwota met ‘eish’ en water was kon ons ongelukkig nie vir die aankoms van die drie here uit die Ooste wag nie. Ons moes ry. Gelukkig het een van die menere ons sy kaartjie gegee, dat sou ons miskien deur die polisie voorgekeer word ons hom net moet bel.
Met al die politieke skommelinge, rommelstatus, Pravish wat onder sy alie geskop is, die Russe wat wil kom kuier en kernkragstasies bou en die impak op ons gewone werkers, is dit die nagmerries waarmee ek nou in die nag worstel. Wie sou nou kon dink ek en die Engelsman op ’n partytjie saam met die een man wat ons land onder ons uitverkoop.
Ek wens dit was nie ’n droom nie, ek sal woorde-diaree gebruik om aan die liewe manne in deftige baadjies te vertel wat in ons land gebeur, want duidelik sien hulle dit nie raak nie.
