
Verjaarsdae … of ons nou daarvan hou of nie, ons almal het een.
Op ’n stadium kan ons nie daarvoor wag nie, dan kom daar ’n tyd wanneer jy dit wil vergeet en effe later vergeet jy regtig daarvan.
Dit was Bob Hope wat eendag gesê het, “Jy weet jy word oud wanneer die kersies meer as die koek kos.”
Hierdie naweek vier ek ’n manjifieke, fantasmogoriese, fenomenale 50 jaar.
My kuiken het gefrons en so ewe laat val, “Mamma, ons moet miskien kyk of ons ’n syfer vyf en ’n nul kan kry. Vyftig kersies gaan nie op die koek pas nie.”
Skielik het alles stil geword toe sy besef wat sy gesê het en ek moes eers my gedagtes agtermekaar kry voor ek iets onverantwoordeliks seg.
Ek voel nie ’n halwe eeu oud nie, my beste vriendin wat ook my haarkapper is, sorg dat niemand kan raai dat ek reeds lankal oor die 40 jaar sperstreep is nie.
Miskien is ek te besig om te besef dat die jare my inkatrol.
Ek het ’n duidelike prentjie waar ek vandaan kom, wat ek al bereik het en ek glo ek het ’n relatiewe goeie idee waarheen ek op pad is.
Ek het al soveel meer ervaar, soveel meer gesien, en soveel meer mense ontmoet as wat ek ooit kon indink ek sou.
Ek het reeds 49 jaar agter my.
Ek is seker ek het my bydrae tot die samelewing gemaak. Ek het drome gehad en hulle uitgeleef.
Ons het toentertyd by Balmoral tot sonsopkoms gedans, dan R8 se ‘slaptjips’ by die ‘road house’ gekoop en onsself trommeldik geëet en ook seker gemaak ons is in die bed voor die son opkom.
Daai tyd was dit nog veilig om vroegoggend nog terug te ry.
Ons het nog by die inryteater op die ou Middelburgpad gaan fliek (en vry).
Ek en my wederhelfte het pleisters geplak, trane afgedroog, saam met die kuikens vir die eksamens geleer en ek het telkemaal ’n taak of twee aanmekaargesit.
Ek het liefgehad, seergekry, krokodiltrane gehuil en kliphard ook gelag oor die lewe en sy snaakse bollemakiesie-draaie.
Die lekker van die hedendaagse lewe is dat die voorskrifte verdwyn het.
Die skaduwees word nie lank nie, herfs is vir my ’n seisoen, nie ’n beskrywing van waar ek nou in die wedloop van my lewe is nie.
Ek het geleer dat geluk ’n vaardigheid en ’n keuse is.
Ek is hier omdat die Here my hier wou hê. My filosofie is eenvoudig, ek het geleer om dankbaar te wees…