Local sportSport

Shumba Ferro’s in finaal

Daar is net nie genoeg byvoeglike naamwoorde om Shumba Ferro’s se oorwinning die afgelope naweek oor Middelburg te beskryf nie.

Die buurdorp se klub het met groot verwagting die Olifantsrivier oorgesteek vir die Super Liga semi-finaal net om deur Ferro’s gekasty te word in ’n wedstryd wat as een van Ferro’s se bestes die afgelope seisoen gesien kan word.

Middelburg se gemoedere het hoog geloop toe daar in die eerste 23 sekondes reeds sewe punte op hul kant van die telbord aangeteken was. Sommige sal sê hulle het toe reeds ’n sielkundige voorsprong gehad.

Middelburg het hul punte stelselmatig opgestapel en dit het gelyk of Ferro’s hul opponente eers goed opweeg voordat hulle hul eerste skuif gemaak het.

Christiaan Els gaan mik vir ’n drie.
Christiaan Els gaan mik vir ’n drie.

Skuins voor halftyd het Ferro’s vanuit hul eie halfgebied aangeval. Jannie van der Merwe het in die middelveld deurgebreek en het ’n paar reuse tree gegee voor hy reg voor die doellyn platgetrek is. Hy het egter nog genoeg krag gehad om die bal met ’n vinnig uitgee in Jaco de Beer se hande te laat beland, wat die geleentheid waargeneem het om agter die doellyn te gaan kuier.

Met die half tyd telling op 7-19 het Middelburg sekerlik al begin beplan het vir die Gemeenskapsbekertoernooi in 2015.
Die tweede helfte het ’n begeesterde tuisspan op die veld sien op draf. Ferro’s het soos ’n stoomtrein weggetrek en soos voorspel was verlede week het die middag lank geraak vir Middelburg.

Ferro’s se voor en agterspelers het gekombineer om aanval op aanval te loods en dit was minute toe breek die wal. In die lynstane was Ferro’s weereens briljant met die planmaker Jeandi Oosthuysen wat sy springers bestuur het soos Victor Matfield.

Die laaste 40 minute is heeltemal deur Ferro’s oordonder. Hulle het 36 punte in dié helfte aangeteken om die wedstryd 43-24 te wen.
As die span se vertoning ontleed word is dit duidelik dat hulle die nodige diepte besit om hul stem behoorlik dik te maak in die liga.

Elke voorspeler het Saterdag sy kant deur en deurgebring en veral die losvoorspelers het telkens meters veld gewen en veral Middelburg se verdediging in kanaal een en twee  geteister. Jackie Smit, Winsin Theron en Izan Green moet sekerlik as die beste lostrio in Puma klub rugby geag word na die soveelste uitstekende vertoning.

Jannie was weer die katalisator in die agterlyn en dit het telkens twee tot drie  verdedigers gevat om hom te stop.
Christiaan Els het die wedstryd plan van losskakel af beheer en self een van sy beste wedstryde die seisoen gespeel. Tommy Collin en Jean Botha is nou as senterpaar gevestig en die twee word moeilik geklop in die middelveld.

Die Super Liga finaal vind die naweek tuis plaas op die Puma Stadion wanneer Ferro’s teen Sasol speel.
Sasol het self die naweek ’n groot oorwinning behaal toe hulle die hoogaangeskrewe Witrivier met 45-11 uit die finaal geboender het. Dit het hulle net 20 minute gevat om 25 op te stapel.

Die ryk geskiedenis tussen die twee klubs beloof om Saterdag rugby uit die boonste rakke op te dis.
Albei spanne is goed gekondisioneerd en ook baie fiks.

“Sasol het sewes-ervaring en hulle weet hoe om ’n bal rond te gooi. Gaan ons terug tekenbord toe, beslis. Hulle styl van rugby speel is baie na aan ons eie en hulle is ’n goed gebalanseerde span wat Middelburg ook al die loef afgesteek het,” het Willie Oosthuizen, Ferro’s se afrigter gesê.

Jannie van der Merwe, Jaco de Beer en Jackie Smit soek die bal.
Jannie van der Merwe, Jaco de Beer en Jackie Smit soek die bal.

Alhoewel Ferro’s Sasol al twee keer gewen het, 56-9 tuis en 33-25 in Secunda weet hulle dat die span nie onderskat kan word nie.
Die wenner van die wedstryd kwalifiseer outomaties vir die 2015 Gemeenslapsbeker en die verloorder kwalifiseer om in ’n uitspeel toernooi te speel teen die tweede gekeurde klubs van die Valke, Leeus, Bulle en Luiperds.

Die wedstryd begin om 15:00 en ondersteuners word versoek om in getalle op te daag om die groot stryd te kom mee maak.

*Ferros se drieë is deur Chrsitiaan Els (2), Jannie van der Merwe, Jaco de Beer, Winsin Theron, Jaco Marneweck en Martin Prinsloo gedruk. Jannie het agt punte bygevoeg met sy skopskoen toe hy met vier doelskoppe geslaag het.  Jeandi is aangewys as die voorspeler van die wedstryd en Jannie het verdien om as die Bolt & Nut speler van die wedstryd aangewys te word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button