HTS skietspan weer bo-baas in Nkangla
HTS Witbank se skietspan het hierdie jaar weer skoonskip gemaak by die Nkangala Streekfinaal.
HTS Witbank se skietspan het hierdie jaar weer skoonskip gemaak by die Nkangala Streekfinaal.
Die streekfinaal het vanaf 1-2 Augustus by Hoërskool Generaal Hertzog plaasgevind.
Die skietspan van HTS Witbank het hul titel as beste luggeweer skietskool in die Nkangala Streek met sukses verdedig en het die trofee vir die vierde agtereenvolgende jaar huis toe geneem.
Vyf en dertig skuts van HTS Witbank het aan die kompetisie deelgeneem en vir hul vier mededingers, Hoërskool Generaal Hertzog, Middelburg HTS, Hoërskool Middelburg en Hoërskool Ben Viljoen gewys watter resultate bereik kan word met toegewyde oefening, pligsgetrouheid en hope entoesiasme vir die sport.
Hierdie jaar is daar ook ‘n ekstra ouderdoms-groep in elke klas bygevoeg, naamlik o.14, wat laerskoolskuts en graad 8 skuts insluit.
Die o.21A sporterspan, o.16A sporterspan, o.21 veerspan, o.16 veer-span en o.14 veerspan het almal hul onderskeie spankompetisies gewen en boonop het die o.14 sporterspan, o.16B sporterspan en o.21B sporter- span ook die tweede plekke in die spankompetisies ingeneem.
Die skuts het ook die volgende individuele prestasies behaal:
Leonard Visser is aangewys as die beste o.21 Sporterskut met Jaco Krige in die tweede plek.
In die o.16 Sporterklas het Monique Blignaut weer soos in 2013 stof in die manne se oë geskiet en eerste plek ingeneem met Ruan van Zyl tweede en Cameron de Wet in die derde plek.
Die o.14 Sporterskuts moes die knie buig voor Middelburg HTS maar ons laerskool sporterskut, Chantelle Wassenaar van Laerskool Kragbron, het die derde plek as beste o.14 sporterskut ingeneem.
In die veerklas is Alistair Tollemache aangewys as die beste o.21 Veerskut.
Johandré Labuschagné het koning gekraai as die beste o.16 Veerskut met Clarissa Bothma in die tweede plek en Quineil Piek derde.
Die nuwe o.14 Sporterskuts het ook hul staal gewys en Justin Botha is as wenner in die klas aangewys met Heinrich van der Merwe tweede en Kian Labuschagne (Laerskool Taalfees) derde.
Om die kroon op die span se prestasies te span, het HTS Witbank ook met die trofees vir die Algehele Beste Sporterskut en Algehele Beste Veerskut (ongeag die ouderdom van die skut) huis toe gegaan. Hier het die o.16’s die o.21’s in die stof laat byt en die beste algehele sporterskut was Monique Blignaut met Johandré Labuschagne die beste algehele veerskut.
Baie geluk aan die skuts. Dis voorwaar ‘n prestasie om op trots te wees.
Dank ook aan die vrywillige ouers wat verantwoordelik is vir die afrigting en administrasie van die span dwarsdeur die jaar. Die Mpumalanga finaal vind plaas van 15 tot 16 Augustus te Nelspruit en ons glo HTS Witbank se skuts gaan weer soos verlede jaar, goed verteenwoordig wees in die Mpumalanga span.
