HTS skut skiet eerste plek los
Jaco Krige, die Hoër Tegniese Skool se top senior sporterskut, het die afgelope naweek geskiedenis vir die skool se skietspan gemaak deur die Suid-Afrikaanse Skole Skutters Unie (SANSSU) se nasionale proewe in Florida, Gauteng, loshande te wen en die goue medalje huis toe te bring.
Die kompetisie tussen die 65 sporterskuts wat die proewe op uitnodiging bygewoon het, was buitengewoon sterk en dit het konsentrasie tot die laaste skoot toe geverg om die besondere prestasie te behaal.
Jaco is huidig ook die nommer een o.21 sporterskut in die provinsie en het tot dusver elke kompetisie hierdie jaar gewen.
Na afloop van die proewe is die SANSSU toerspan aangekondig wat aan die British Junior Internationals in London gaan deelneem gedurende Augustus. Daar is slegs 15 skuts in die span opgeneem en die posisies van die skuts in die span is bepaal deur hul tellings behaal tydens die nasionale proewe, sowel as die inter-provinsiale kompetisie wat teen Kwa-Zulu Natal geskiet is.
Jaco het toe die kroon op sy prestasie van die naweek gespan om ook die nommer een plek in die span in te neem.
Beste wense vergesel hom op die toer na Engeland en ons glo hy gaan daar ook weer eens bewys van watter stoffasie HTS Witbank skuts gemaak word. Baie geluk en mag hy ‘n ware ambassadeur vir sy skool en die stad wees.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus
Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C00F om jou nuusflitse gratis te ontvang.
