School sportSport

Skietspan doen dit vir die vyfde keer

Die Hoër Tegnies Skool se skietspan het hierdie jaar behoorlik stof in die ander skietskole in die Nkangala-streek se oë geskiet

Die Hoër Tegnies Skool se skietspan het hierdie jaar behoorlik stof in die ander skietskole in die Nkangala-streek se oë geskiet om vir die vyfde agtereenvolgende jaar die Nkangala Streekkompetisie oortuigend en met trots te wen.
Vanaf 31 Julie tot 1 Augustus het die skote geklap tydens die Nkangala Skole Skiet Streekfinaal wat by HTS Middelburg plaasgevind het. Die Nkangala Streek is dan ook tans die grootste van die drie skietstreke in die provinsie met vyf skole wat aktief aan kompetisies deelneem en ook met die meeste geaffilieerde skuts in Mpumalanga spog.

Die skietspan van HTS Witbank het hul titel as beste Luggeweer Skietskool in die Nkangala Streek met groot sukses verdedig deur elke spankompetisie waaraan hul deelgeneem het, in elke ouderdomsgroep en klas, met oortuiging te wen en die span het boonop ook al die individuele beste skuts in elke ouderdomsgroep en klas opgelewer.
Al klas waaraan die skietspan nie huidig ten volle deelneem, is die lugpistoolklas.
Die kompetisie was straf en veral in die individuele klasse was die uitslae soms naelskraap gewees. Baie geluk dus ook aan die skuts van die ander vier skole in die streek – jul was waardige mededingers.
Die 37 skuts van HTS wat aan die kompetisie deelgeneem het, het gewys watter resultate bereik kan word met toegewyde oefening, pligsgetrouheid en hope entoesiasme vir die sport. Die o.14, o.16 en o.21 veerspanne het die spankompetisies gewen en in die sporterklas het die o.14, o.16A en o.21A ook hul spankompetisies gewen met die o.16B en o.21B spanne wat boonop derde geëindig het.

Die volgende skuts het dan ook die individuele trofeë vir beste skut in hul onderskeie ouderdomsgroepe en klas behaal:

In die o.14 veerklas was Viaan Viljoen die wenner.
Die o.16 veerklas wenner was vir die tweede jaar in ‘n ry Johandré Labuschagne.
Mathys Bothma is die o.21 veerklaswenner.
In die o.14 sporterklas het die meisies stof opgeskiet en Michelle Henning is die wenskut.
Theodore Minnaar het die o.16 sporterklas gewen.
In die o.21 sporterklas was die spankaptein Jaco Krige die waardige wenner vir die dag.

Om die kroon op die span se prestasies te span, het HTS Witbank ook met die trofeë vir die Algehele Beste Sporterskut en Algehele Beste Veerskut op die kompetisie huis toe gegaan. Johandre Labuschagne is vir die tweede jaar aangewys as die beste Algehele Veerskut en Jaco Krige is 2015 se Beste Algehele Sporterskut in die Nkangala Streek.

Baie geluk aan die skuts. Dis voorwaar ‘n prestasie om op trots te wees. Dank ook aan die vrywillige ouers wat verantwoordelik is vir die afrigting en administrasie van die span dwarsdeur die jaar. Die Mpumalanga Finaal vind plaas op 14 en 15 Augustus in Ermelo en ons glo HTSse skuts gaan weer soos verlede jaar, goed verteenwoordig wees in die Mpumalanga-span.

ta607rs

HTS Witbank se skietspan is (van links, agter): Armand Botha, Jaco Krige (kaptein), Cameron de Wet, Ruan van Zyl, Marnus Deyzel, Luan Wessels, Theodore Minnaar, Jarryd Pinto, Mathys Bothma, Henry Schoeman, en JJ Harmse; (middel): Mari van den Berg, Heinrich van der Merwe, Pieter Labuschagne, Arno Meyer, Anzel Janse van Rensburg, Clarissa-Leigh Slabbert, Michelle Henning, Mone Meyer, Johandré Labuschagne, en Sisca Joubert; (voor): Carmen Rautenbach (kaptein), Jamie-Lee van der Walt, Alistair Tollemache, Monique Blignaut, Quineil Piek, Clarissa Bothma, Viaan Viljoen, en Tyron Glover; (afwesig) Kian Archer, Matthew Beukes, Eucharl Kok, Elsje Olivier, Alan Taylor, Anellé van Niekerk; (laerskoolskuts) Chantelle Wassenaar (Laerskool Kragbron) , Kian Labuschagne (Laerskool Taalfees).

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button