
Musiek is die note van die lewe. Dit is met hierdie note wat ek dié week weer mee verras was.
Onder die pakkie van Lydie Winchester, musiekpromotor, is daar twee CD’s van boorlinge van ons Steenkoolstad.
Daniel Hoffman se album ‘Niemand anders‘ en Armand Joubert se debuutalbum ‘Drome word waar’ het tussen die van Coffee Snobs se ‘Aroma’, Juan Boucher se ‘Dis wie ek is’, Richard van der Westhuizen ‘Yster & Vuur’ en Karlien Husselman se ‘Weet jy’ weggekruip.
Daniel het geen bekendstelling nodig nie. Sy treffer ‘Soen my op my boepie’ het die kollig na hom verskuif. Spoedig daarna het die album ‘Nat agter die ore’ gevolg.
Die nuwe album het ’n meer kontemporêre klank en dit is ook waaraan ek die album se sukses toeskryf. Daniel het wegbeweeg van sy ‘comfort zone’ en die album wys dié sanger is reg om groot te gaan.
Anton Myburg het die woorde geskryf vir ‘Vee daai traan van jou wang af’, Dennis East het ook insae gehad en die liedjie ‘Jump this train’ geskryf.
En soos ’n voortreflike poeding na die maal, sluit Daniel die album af met sy interpretasie van Leonard Cohen se tydlose treffer ‘Halleluja’. Hiermee gee ek dié kunstenaar ’n staande ovasie.
Armand het my laat omdraai en weer kyk met sy vertolking van Prince se treffer ‘Purple rain’. Dit was op ’n verhoog by die Tshwane Universiteit van Tegnologie in eMalahleni. Toe reeds het ek geweet, die mannetjie kan sing.
Armand het die meeste van die liedjies op die album geskryf. Die titelsnit op die album is een van my gunstelinge.
Armand raak verskeie genres aan in die album, daar is ritme-musiek met op en wakker klanke en ook ballades.
Juan Boucher, wat gaan aan? Ek is mal oor die Juan wat my wil laat dans en partytjie hou tot laat in die nag met sy musiek, die nuwe CD wil my ’n bottel wyn laat gryp en huil.
Lydia is van die mening die album weerkaats gedagtes waarin die sanger/liedjieskrywer diep in die murg delf. Nee Juan, bring jou opgewekte musiek terug.
Coffee Snobs, Venette en Marius Wessels, se debuutalbum Aroma is beslis vars, geurig en smaaklik. Hulle is nie ’n gospelgroep nie, tog wink daar ‘n kragtige geestelike ondertoon. Soos ’n koppie boeretroos het jy dié tipe musiek en oorspronklikheid nodig om die dag mee af te skop.
Kreatiwiteit is nie genoeg om Richard van der Westhuizen se album, ‘Yster & Vuur’ te beskryf nie.
Richard se loopbaan strek al oor die 35 jaar. Die nuwe album bevat 13 oorspronklike komposisies, waarvan alles behalwe ‘Renoster’ en ‘Duiwelskloof’ uit sy eie pen is.
Richard is nou een van daardie kunstenaars wie se musiek die hele aand in die agtergrond moet speel – hou dan sommer daardie glasie Chardonnay byderhand.
Richard is een van die kunstenaars wat sy nering en passie leef, voorwaar ’n legende.
Karlien Husselman jy tower my dae sommer op met jou Country-stem. Hierdie is Karlien se sesde album en dit is volbloed-Country.
Ons sluit die week nie af sonder ’n kompetisie nie. As jy graag Armand se CD wil wen, beantwoord hierdie maklike vraag en stuur jou antwoord en kontak details na zita@witbanknews.co.za: Wie is die twee boorlinge van eMalahleni wie se CD’s onlangs op die rakke is?
Die kompetisie sluit op Maandag 1 Augustus om 17:00.
