Witbank Geloftefees verskuif na ander terrein
Die vieringe word verskuif na die Nederduitse Hervormde Kerk, Witbank Suid gemeente. Die kerk is geleë op die hoek van Sturdeelaan en Jansenstraat (agter Witbank Hospitaal).

Die Witbank Geloftefees vieringe vind vanjaar op ’n ander terrein plaas.
Die vieringe word verskuif na die Nederduitse Hervormde Kerk, Witbank Suid gemeente. Die kerk is geleë op die hoek van Sturdeelaan en Jansenstraat (agter Witbank Hospitaal).
Omstandighede in die land het so verander dat skole nie meer gewillig is om hulle geriewe beskikbaar te maak nie. Die Witbank Geloftefeeskomitee het dus besluit om van die kerk wie se preekbeurt dit is, se geriewe gebruik te maak tot wanneer ’n eie feesterrein bekom word.
Die komitee is op die uitkyk om so ’n terrein te bekom wat ook vir verskeie ander kultuuraktiwiteite aangewend kan word.
“Die publiek word dus uitgenooi om ons hierin behulpsaam te wees, aangesien dit aansienlike kostes tot gevolg gaan hê” het mnr. Leon Viviers, sekretaris, gesê.
Die komitee is vol vertroue dat die nodige middele voorsien sal word om hierdie ideaal van ’n eie feesterrein te verwesenlik.
Op Vrydag 16 Desember begin die Geloftefees verrigtinge om 09:00. Die prediker by die geleentheid is dr. Elritia le Roux van Middelburg. Die spreker na afloop van die erediens is dr. Pieter de Kock van Thabazimbi.
Na afloop van die verrigtinge word die feesgangers uitgenooi om saam te kuier en ’n lafenis te geniet. Die kuier rondom heerlike boereworsrolle wat beskikbaar sal wees is een van die hoogtepunte. Verlede jaar se bywoning het die vorige jare oortref en dit maak die komitee opgewonde oor hierdie jaar se fees.
Die sekretaris, mnr. Leon Viviers kan vir enige navrae geskakel word: 082 894 5755.
