EntertainmentLifestyle

Wen Rocco en Burgerd se nuutste album!

Die eerste musiekvideo vanaf Rocco de Villiers se nuutste album, ‘kortbroek, langkouse’, is pas vrygestel en het reeds soos ’n veldbrand onder aanhangers versprei

Die eerste musiekvideo vanaf Rocco de Villiers se nuutste album, ‘kortbroek, langkouse’, is pas vrygestel en het reeds soos ’n veldbrand onder aanhangers versprei.

Die produksie is behartig deur Gerhard van Rooyen (GVR) en sy produksiespan en is geskiet by Safari Tuinsentrum in Lynnwoodweg, Pretoria. Gerhard vertel dat die konsep gebaseer is daarop dat ons onsself in die daaglikse lewe van ’n kous bevind. “Ek dink daar is mense wat hulself met die kous se lewe kan vereenselwig, waar jy vasgevang is in die gewone roetine. Jou lewe het stagneer en jy vind jouself in ’n gemaksone. Kous het ’n droom. Hy sien daagliks die prentjie van Rocco en sy musiek wat êrens ver weg is op ’n eiland en hy voel hy is vir meer bedoel in die lewe. Kous maak dan die besluit om weg te breek van die ordinêre om sy droom te vervul. Hy gaan op ’n avontuur om Kouseiland te gaan soek.”

Die album en liedjie heet ‘kortbroek, langkouse’ en die storie van kouseiland het dus soos ’n handskoen gepas. Die verhaal van die kous is in Waverley verfilm en daar is gebruik gemaak van stop motion-tegnologie om die kous lewe te gee saam met die gewone video. Die kouse is met draadwerk gestop sodat hulle posisies beheer kon word. Die tuinsentrum het al die nodige elemente bevat om ’n sprokiesland te skep.

Die bekroonde en uiters begaafde pianis, Rocco de Villiers se veertiende instrumentele album, ‘kortbroek, langkouse’ is op 13 Julie vrygestel. Dit bou voort op die musikant se unieke klavierstyl, eiesoortige komposisies en verwerkings waarvoor hy bekendheid verwerf het. Dié popalbum spog nie net vir die eerste keer met ’n Afikaanse titel nie, maar beloof om luisteraars na die dansvloer te lok.

Die dieper betekenis van ‘kortbroek, langkouse’, is om mense te inspireer om net soos Rocco ook hulle drome te volg en te bereik. Dit is duidelik dat dié splinternuwe album deur dié Suid-Afrikaanse klavierlegende jou op ’n opwindende lewensreis gaan neem, musiekliefhebbers gaan laat vrolik voel, maar ook soms diep sal laat dink. Die album is tans aanlyn en by winkels te koop.

Burgerd Botha het beslis geen bekendstelling nodig nie. Hierdie talentvolle kunstenaar, met sy sielvolle stem, was nie net vir sewe jaar betrokke by die bekroonde groep Romanz nie, maar tree ook gereeld op by van die land se grootste feeste en konserte. Sy langverwagte debuut solo-album is pas vrygestel en beloof om aanhangers se asems weg te slaan.

Hartlagsiel is ’n pragtige kombinasie van ligte akoestiese popmusiek, hartroerende ballades en interessante elektroniese klanke, wat luisteraars sal uitnooi om saam te sing en diep te dink oor die lewe en die liefde.

Die album bestaan uit vyftien snitte, waarvan tien deur Burgerd self geskryf is. Alhoewel hy nie enkele liedjies wil uitsonder as sy gunsteling nie, meen hy dat Suikerbosseisoene die potensiaal het om ’n groot treffer te wees. Die laaste liedjie op die album, Waarvoor Ek Vra, is opgedra aan sy vriend Adam Barnard, nadat dié se moeder tragies verongeluk het.

Die Sterre, die nuutste enkelsnitvrystelling wat vandag uitgereik word, is deur Stephantasties geskryf en vervaardig en het ’n treffende akoesties elektroniese aanslag. Oor die musiekvideo wil Burgerd nog nie te veel verklap nie, maar hy sê wel dat dit met asemrowende visuele elemente en beligting gepaard sal gaan.

Burgerd is ’n perfeksionis wat glo dat hy verantwoordelikheid moet neem vir sy toekoms en loopbaan. In sy vrye tyd, geniet die sangsensasie dit om tyd saam met sy familie te spandeer. Verder is hy ook ’n direkteur van Orthologics en span hy sy talent in om vir ander kunstenaars liedjies te skryf. Hy is ook ’n avonturier, wat nooit nee sê vir uitdagende buitelugaktiwiteite nie.

Aanhangers is beslis bly dat hierdie talentvolle musikant nog nooit bang was om die kosbare talent wat hy ontvang het met die mense rondom hom te deel nie. Hartlagsiel is nie net ’n bewys van Burgerd Botha se uitsonderlike musikale aanleg nie, maar ook die begin van ’n baie opwindende nuwe hoofstuk van sy loopbaan.

WITBANK NUUS gaan een van hul lesers bederf met Rocco en Burgerd se nuutste albums. Vertel ons hoekom jy hulle albums jou eie wil maak. Los jou kommentaar hieronder.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Witbank News in Google News and Top Stories.

Back to top button