Local newsNews

Woorde wek, voorbeelde trek

Na 50 jaar saam glo hulle: Die pot en deksel het net gepas.

ALBERTON – Die eienaars van Ascot Bedding and Furniture, Des en Marie Dussing, het hul 50ste huweliksherdenking op 4 Januarie gevier. Hulle is in 1964 op Waterval Boven getroud.

Die paartjie het in Potchestroom ontmoet terwyl hulle op ‘n KJV (Kerk Jeugvereniging) kamp was… of soos hulle dit noem, “Kry Jou Vrou”.

Nadat hulle saam besluit het om te trou en albei klaar gestudeer het, het Marie skertsend gevra of Des pensioen soek en Des het besluit dat hy die beste skoonouers sou hê.

“Die pot en deksel het net gepas, ‘n pot met ‘n gawe deksel,” stem die twee saam. ‘n Verhouding se wenresep is om baie dinge saam te doen, glo hulle: sport, besigheid en gemeenskaplike belange, hoewel dit ook goed is om mekaar ruimte te gee.

Geloof, hoop en liefde is wat hulle al die jare saam gehou het, asook kerk en sendingwerk. “Dit is net lekker,” sê Des en Marie. Alhoewel Des die broek dra, maak Marie seker dat sy haar broek ook deftig dra, en hulle neem hul besluite saam.

“Die eerste 40 jaar is moeilik. Daarna leer julle mekaar ken; optrede, maniere en so aan. Ons het ook ‘n baie goeie verhouding met ons kinders, Leopold en Deon Dussing. Ons kinders en vier kleinkinders is ons hart se punt.”

Die Dussing familie is baie geheg aan mekaar en al kan hulle ook stry kry, bereik hulle altyd waarop hulle saam besluit het. “Ons soek maklik ‘n geleentheid om tyd saam met die familie te spandeer en kuier graag in die bos.

“Ons is buitemense en hou van die veld. Ons is ook steeds besig met die besigheid, Ascot, en dit sal so bly tot ons nie meer kan nie… en totdat ons polis uitbetaal,” voeg Des skertsend by.

Hulle is albei dankbaar vir hul gesondheid en dat hulle nog energie het om die lewe saam te geniet. “Lag speel ‘n groot rol in ons familie, soos jy kan hoor,” verduidelik Des.

Die meeste van hul plooie is lagplooie, beduie die twee. Hulle gee dank aan God dat hulle soveel jare saam kon wees. Alles wat hulle het, goed of sleg, maak hulle beter en sterker mense.

“Ons hoop ook dat ons krag aan ander uitstraal en dat ons ‘n goeie voorbeeld kan wees vir die gemeenskap,” sluit Des en Marie af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button