ALBERTON- Na sewe jaar van strawwe onderhandeling het die Department van Infrastruktuur en Ontwikkeling, R32 miljoen bewillig om Hoërskool Alberton te restoureer.
Die restourasie bal is aan die rol gesit nadat die huidige skoolhoof, Hendri Schoeman, die skool in 2014 as ’n erfenisterrein laat verklaar het. Na vele oproepe, e-posse en vergaderings word die bestaande gebou vir die eerste keer sedert 1972 gerestoureer.
Herstelwerk het reeds op 11 Mei begin en die kontrakteur, TCT Civil, beoog om in Desember klaar te wees. Beide die hoof en die faktotum, Riaan de Beer, getuig van die professionele wyse waarop die ontwikkeling hanteer word. Die bouspan, wat bestaan uit elektriese ingenieurs, argitekte, ’n departementele verteenwoordiger, die hoof en al die werkers, ontmoet elke tweede Vrydag vir ’n vergadering.
“Omdat die skool ’n historiese monument is, moet alle restourasiewerk gedoen word volgens sekere riglyne. Vensterrame mag byvoorbeeld nie vervang word met aluminium nie, alle deure moet soliede hout deure wees en geen bome mag uitgehaal word nie. Die oorspronklike karakter van die skool moet bewaar word,” sê Hendri.
Die restourasiewerk sluit die herstel van vensters, geute, dakke, pype, deure, vloere, mure, ligte, plaveisel, teëls en die skool en gimnastieksaal in.
“’n Ondersoek is geloods toe ’n groot lig uit die dak geval het omdat die dakbalke vrot was. Die skooldak het vreeslik gelek, veral die saal,” beskryf Hendri. Die skoolvierkant, waar die leerlinge vergader, se ou teerblad is klaar opgeruk en nuwe plaveisel word tans gelê.
As deel van hulle kontrak het TCT Civil tydelike klaskamers op die sportvelde opgerig en alhoewel dit ’n bietjie ongemaklik is, is dit beslis die moeite werd.
Connie Eggar, die skoolhoof se sekretaresse sê met ’n glimlag, “Dit is hoogtyd dat dié ou dame van Alberton ’n gesigsontrimpeling ondergaan”.
**Loer gerus na kiekies van die restourasie op die RECORD se webblad.
https://www.citizen.co.za/alberton-record/74432/alberton-hoer-ondergaan-n-gedaante-verwikkeling/