Ondersteun die Gaan-Groot-vir-Alberton-projek
Suiderlig Voortrekkers loots nuwe projek.
Die Voortrekkerbeweging vier hierdie jaar hul 90ste bestaansjaar nadat dit as ’n jeugbeweging op 30 September 1931 in Bloemfontein gestig is.
Die Voortrekkers se slagspreuk vir 2021 is Gaan Groot, met die idee om in hulle gemeenskappe dwarsdeur Suid Afrika en Namibië betrokke te raak en so ook as diensbare leiers iets in hul gemeenskap terug te ploeg.
Suiderlig Voortrekkers, wat in Alberton gevestig is, het besluit om ook ’n bydra te lewer met hul Gaan-Groot-vir-Alberton projek.
Meer oor die projek
Met die impak wat die Covid-19 gedurende 2020 op die gemeenskap gehad het, en nog steeds het, is daar besluit dat die projek veral op minderbevoorregtes, bejaardes en kinderhuise moet fokus.
Die projek rus op vier bene. Daar is die wol en gebreide items wat deur die laerskool leerders, Penkoppe en Drawwertjies, gedryf word.
Wol word versamel om gebreide items soos serpe, handskoene en musse te maak.
Van die plaaslike kerke en die kinders se oumas help veral hier met die breiwerk.
Die hoërskool leerders, die Verkenners, is betrokke by die insameling van komberse en die volwasse lede beoog om op 5 Junie soveel sop as moontlik te kook wat gevries word en dan versprei sal word waar die behoefte mag wees.
Die sopkook is ’n jaarlikse instelling en die meerderheid van die sop het gewoonlik na Laerskool Orion se voedingskema gegaan en waar daar ’n behoefte was.
Uitbreiding
Die Suiderlig Vootrekkerkommando wat by Laerskool Orion gesetel is, het uitgebrei na Laerskool Randhart en het ook lede in Laerskool President Steyn.
Van die sop is ook vir hierdie skole geoormerk. Na ’n geslaagde plastiekdoppie-insameling vanaf 2019 tot in 2020 wat die skenking van ’n rolstoel aan ’n gestremde lid van die gemeenskap moontlik gemaak het, is daar besluit om voort te gaan met die projek, maar instede daarvan om die verlangde 450kg doppies oor 18 maande te versamel is daar in die gees van “Gaan Groot” besluit om dit in nege maande te doen, en dit is nogal ’n uitdaging.
Die Voortrekkerkommando en ouers het ook in ’n kort tyd ’n skenking van speelgoed en tweedehandseklere aan die Heidelberg-tak van SAVF gemaak om so ook na ander organisasies uitgereik in hulle liefdadidheidspogings.
Indien daar enige iemand is wat dalk sou wou bydrae tot die die Voortrekkers se projek is hulle welkom om Ilvy van Tonder by 082 419 0994 te skakel.



