Egpaar sterf weens Covid-19 komplikasies
Johan Gertzen sterf vier dae na sy vrou, Ria.
Een van Alberton se oud-Burgemeesterspaar, Johan (89) en Ria (88) Gertzen, is onlangs kort na mekaar oorlede weens Covid-19 komplikasies in die Medforum Hospitaal in Pretoria.
Ria is op 13 Junie oorlede en Johan op 17 Junie.
’n Gesamentlike diens is op 24 Junie vir die egpaar gehou.
Gertzen geskiedenis
Die egpaar was woonagtig in Alberton sedert 1956 tot ongeveer 2004 waarna hulle vir hulle aftrede na Warmbad verhuis het en toe weer nader na Pretoria toe getrek het waar hulle in Bougainvilla Aftree-Oord gevestig was.
Johan was balju van Alberton tot en met 2002 waarna hy in die ouderdom van 70 jaar afgetree het.
Hy het ook op die destydse Alberton Stadsraad gedien van 1977 en vanaf 1982 tot 1983 het die egpaar as Burgemeesterspaar gedien.
Hulle het aan verskeie organisasies behoort en laat diep spore in die Alberton gemeenskap.
Geseënde jare

Ria het in Heilbron groot geword, daar gematrikuleer en by Barclaysbank in Heilbron gewerk.
Johan het as jong man in Heilbron werk gekry by die munisipaliteit en so het die twee mekaar ontmoet.
Hulle is op 18 Desember 1954 getroud en het 66 geseënde jare saam gedeel.
Volgens hulle dogter, Mandie, was haar ouers warm, liefdevolle mense wat daar was vir hul kinders, kleinkinders, familie en vriende.
“Hulle sou uit hul pad gaan om ander te help en was geliefd onder almal. Hulle was toegewyd aan die Here en het volgens Sy wil gelewe,” het sy vertel.
Oor dit en dat
Hulle was kranige rolbalspelers. Hulle het bykans al die provinsies deelgeneem. Die egpaar het beide hul Limpopo-kleure in rolbal verwerf en nog tot in 2020 gespeel voordat die Covid-19 inperkings ingestel was.
Ria het graag slaapsokkies en musse gebrei vir haar kinders, kleinkinders en ook vir mense by hulle kerk en organisasies. Sy was ook baie lief vir lees.
Johan het baie daarvan gehou om na stories op sy bandmasjien te luister omdat sy se oë nie meer so goed was nie. Hy het CD’s van Bandhulp vir Blindes ontvang en het verskillende boeke deurgeluister.
Hy was veral lief vir skrywers soos Deon Meyer, Karin Kingsbury en Heinz Konzalik. Hy het ook die Bybel deurgeluister.
Saam het hulle baie rond gereis.
“Hulle het ons land eers deurkruis en daarna baie buitelandse reise onderneem. Hulle het nooit na dieselfde plek buitelands gereis nie. Toe die kinders nog klein was het hul graag gekamp met ’n karavaan. Geen pad was te vêr of ongerep nie,” het Mandie gesê.
Sy onthou ook hoe haar ouers graag “canasta” aande gehou het saam met vriende en dat hulle lief was om Skrabbel en Rummikub te speel met wie ook al wou saamspeel.
“Die kinders het graag saam gespeel, want daar was altyd iets om aan te knibbel op die tafel,” het Mandie vertel.
“Ek dink hul grootste vreugde het hul gevind in hul kinders en kleinkinders. Hulle het hul jongste agterkleinkind (3 maande) ontmoet net voor hul oorlede is en omdat oupa nie mooi kon sien nie moes ouma hom vertel hoe mooi sy is.”
Volgens haar was dit as gevolg van die inperkings en versigtig wees vir Covid dat hul die jongste toe eers ontmoet het.
’n Groot leemte

“Daar is baie dinge wat ons sal mis. Hul deernis, liefde en omgee. Die liefde wat hul uitgestraal het en die opgewondenheid oor onverwagse kuiertjies. Hoe lekker hul kon smul wanneer hul by die kinders gekuier het. ’n Braaivleisie en ’n gekookte boere-ete soos oupa altyd gesê het.
“Oupa was veral lief vir sy rugby en het vasgenael voor die radio of TV gesit wanneer rugby uitgesaai word en ouma het weer graag krieket gekyk.
“Ons gaan veral oupa se tafelgebed met etes mis. Hy het altyd hard gepraat as dit by God kom. Hy kon ook baie emosioneel raak as hy sy dankbaarheid teenoor die Here uitspreek oor sy kinders en kleinkinders, asook al die genade wat hy daagliks ontvang het.
“Ouma was ’n sagte mens, liefdevol en het altyd lekkers en soms ’n skelm sakgeldjie uitgedeel soos ’n regte ouma doen. Ouma het ook altyd baie lekker geruik.
“Ons gaan haar sagte hande en blou oë mis. Daai oë het deur jou siel gekyk en kon dadelik sien as iemand ongelukkig is of troos nodig het.
“Oupa was ’n hardwerkende, streng man wat respek afgedwing het, maar hy was ook regverdig. Sy hand was nooit toe wanneer iemand in nood verkeer nie,” het Mandie namens die familie gesê.
Bedankings
“Hul laat ’n groot leemte. Ons harte is seer, maar hulle is nou by ons Hemelse Vader waarna hulle al baie lank uitgesien het en dans nou saam op die ritme van Jesus se hartklop.”
Hul laat hul vier kinders, Mandie, Doret, Petro en Johan, agter, asook nege kleinkinders en vyf agterkleinkinders.
“Dankie aan elke persoon vir al die liefde, huldeblyke, blomme, gebede en selfs etes wat afgelewer is. Dit hou ’n mens staande.”



