‘n Inisiatief wat deur inwoners van Lichtenburg begin is om geel lappe om bome vas te maak het soos ‘n veldbrand versprei na die Alberton gemeenskap en die res van Suid-Afrika.
Die idee agter die inisiatief is om te bid vir hoop in ons dorp, land en wêreld elke keer as jy ‘n geel lap, wat hoop verteenwoordig, sien.
Op die Bome van Hoop se Facebook-blad het die stigters gesê dat mense veral in vandag se tye gebroke is en na hoop smag en dat Covid-19 al baie skade in baie se lewens veroorsaak het.
Die stigters het ander uitgedaag om bome in hulle areas met geel lappe te versier en foto’s daarvan te deel.

Alberton word in geel versier
Linelle Smit en Marina du Plooy het geel lappe op al bome in Susannaweg, Bergweg en Jan Cotzeestraat gebind. Hulle het ook die bome by die verkeersirkel oorkant Loizos Kafee in geel getooi.
“Hierdie was nie regtig ons inisiatief nie. Dit het begin in Lichtenburg en ons het maar net daarop gereageer,” het Linelle en Marina vertel.
Volgens hulle is daar soveel Suid-Afrikaners wat moedeloos is en tou wil opgooi.
“As daar iets is wat vir enigiemand êrens ‘n sprankie hoop kan gee moet mens dit met beide hande aangryp.
“Dit was vir my ook net ‘n herinnering dat ten spyte van probleme is die Here steeds daar vir jou, Hy is getrou, Hy ken jou en Hy sien jou raak. Hy hou jou elke dag in die palm van Sy hand. Al weet jy al die dinge is dit soms nodig om ‘n sigbare teken te hê om jou daaraan te herinner,” het Linelle gesê.
Linelle het ook gesê dat die inisiatief op Afrikaanse sanger, Jo Black, se liedjie Bring die Hoop Weer Terug gebaseer is.

“In die lied vra die sanger wat is hoop en sy antwoord is dat dit die wens dat die son weer opkom en dat vrede by ons sal uitkom. Kom ons neem hande en bring die hoop weer terug. Met daardie wete en agtergrond kan jy nie anders as om te reageer nie,” het Linelle en Marina gesê.
Kom en deel die boodskap van hoop
Hulle boodskap vir Albertonners is, “Wees jy die ligstraal wat hoop bring vir ander in donker tye.
“Bring die hoop weer terug in Suid-Afrika, staan saam, lig mekaar op en fokus op die positiewe nuus en positiewe sosiale boodskappe. Hou op om vas te kyk teen die negatiewe en mekaar op te stook deur negatiewe boodskappe te deel.”
Vir meer inligting of om deel te raak van die inisiatief in die Alberton gemeenskap, skakel Linelle op 082 328 3133.
Inwoners kan ook die Bome van Hoop/Trees of life Facebookblad gaan volg.




