KYK: Jo bring hoop terug na Albertonners
Jo vermaak Albertonners met sy musiek en stories
Jo Black saam met sy band, the Bearded Men, se vertoning het baie harte aangeraak op 20 en 21 September toe hy by die New Redruth Dros opgetree het.
Hy het nie net van sy treffers gesing nie, maar het ook kortliks die storie agter elke liedjie met die gehoor gedeel.
“Dit is vir my lekker om weer op die verhoog te kan wees. Dis die eerste aand in ’n lang tyd wat ek nie sleg voel om nie by die huis te wees nie, want ek weet ek kan weer mense se harte aanraak deur my musiek,” het Jo aan die REKORD vertel.
Op tye tydens sy vertoning het die gehoor selfs harder as Jo gesing.
Een van die eienaars van die New Redruth Dros, Martin Claassen, het gesê dat hulle groot dinge beplan vir die res van die jaar, as dit toegelaat word.
“Ons bring van die grootste sangers Alberton toe,” het hy vertel.
Martin het ook gesê dat die pandemie ’n groot impak op die toerismebedryf en die restaurantbedryf het.
“Dan praat ons nie van die groot impak op kunstenaars nie.”
Hy het aan die REKORD vertel dat die pandemie hulle hard getref het, maar dat dit hulle ook geleer het om dankbaar te wees vir dit wat jy in die oomblik het.
Hou gerus die REKORD dop vir opkomende vertonings.
Vir meer inligting, skakel Charles Claassen by 083 300 0172 of Martin by 082 045 7071 of die restaurant by 010 216 9220.
















