Local news

Apie en Anna se liefdesverhaal

Apie (81) en Anna (77) Pretorius van Alberton-Noord gesels oor hulle jare saam.

Apie (81) en Anna (77) Pretorius vier op 28 Desember hulle 60ste huweliksherdenking en die egpaar sou dit alles oor-en-oor wou oordoen as hulle kon.

“Ons is een van daai verliefdes wat net vir mekaar gemaak is, ons verstaan mekaar, ons luister na mekaar en ons ondersteun mekaar,” het Anna vertel.

Die egpaar bly vir die laaste 45 jaar in hul huis in Alberton-Noord en die koerant het by hulle gaan kuier om meer oor hulle liefdesverhaal uit te vind.

Gemaak vir mekaar

Hulle deel ‘n verhaal wat in hul vroeë jare begin het. Ten spyte van die ontmoeting toe Anna in Graad Vyf was en Apie in Graad Nege, was dit eers toe sy 17 jaar oud was dat hulle begin uitgaan het.

Apie en Anna op hulle troudag.

Apie, ‘n vriend van Anna se neef Bokkie Melville, het gereeld by die familie gekuier en Anna onthou hoe sy hom so goed ken. “Ek het hom in ons jonger dae gesien by ons huis aankom met ‘n fiets tot ‘n motorfiets, en uiteindelik toe met sy eie motor.” Anna het met liefde Apie se Elvis Presley-haardragsel onthou en beklemtoon dat hy haar eerste en enigste kêrel ooit was.

‘n Vriendin van Anna het eenkeer opgemerk dat Anna en Apie soos vis en skyfies is, hulle hoort eenvoudig by mekaar.

“Ons liefdesverhaal het net gebeur; ons het ontmoet, ons het verlief geraak, en die res is geskiedenis,” het die paartjie gedeel.

Nou, terwyl hulle 60 jaar van liefde vier, dink die paartjie terug aan ‘n lewe gevul met kosbare oomblikke.

Familie is alles

Hulle is geseën met vier kinders, 10 kleinkinders en vyf agterkleinkinders. Vir Anna en Apie bly hul troudag een van die hoogtepunte van die afgelope ses dekades, saam met die vreugde van die geboorte van elke van hul kinders.

‘n Dag in 1963 wat Apie en Anna Pretorius nie gou sal vergeet nie.

Anna geniet dit hom te brei en te lees terwyl Apie ook graag boek lees. In sy jonger dae was hy ‘n kranige rolbalspeler en het hy daarvan gehou om vis te vang. “Ek sal nooit vergeet toe ons kinders op skool was hoe ek op Sondae ekstra kos moes maak want ons huis was altyd vol kinders. Daar was en is nog altyd lewe in ons huis,” het Anna vertel.

Anna het jare as a verkoops-sekretaresse gewerk, terwyl Apie baie handig was en as ‘n lugversoring- en verkoelingtegnikus gewerk het.

Die paartjie wil graag hulle kinders, kleinkinders en agterkleinkinders vir hulle liefde, hulp en ondersteuning bedank.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button