Local news

Robbie en Lenie se 60 jaar van geluk

Sestig diamant jare vir Randhart-egpaar.

Op 1 Februarie het Robbie en Lenie Schmidt ‘n ongelooflike mylpaal bereik, 60 jaar van liefde en geluk.

Hierdie inspirerende egpaar het mekaar ontmoet by ‘n handelsbank op 13 April in 1959 en het op 1 Februarie in 1964 in Edenvale in die huwelik getree.

Vir hulle is die geheim tot ‘n suksesvolle huwelik om saam te werk en spaarsamig te lewe. “Jy het nie iets nodig as jy dit nie kan beskostig nie. Moet nie in kompetisie wees nie, want jy gaan jou vingers brand,” het Robbie gesê.
Die egpaar het twee kinders en twee kleinkinders.

Een van hulle beste herinneringe is ‘n toer deur Europa, waar hulle nuwe plekke ontdek het en meer oor die wêreld geleer het.

Robbie en Lenie geniet dit om saam in die tuin te werk. “Ons doen alles saam, wat ookal dit mag wees,” het Lenie gesê.

Lenie doen baie naald- en borduurwerk, terwyl Robbie daagliks besig is met seëls. Hy het in 1979 aangesluit by die Alberton Filatelie Klub aan die Oos Rand.

Hy is ook die verteenwoordiger van ZUMAT (Zululand Mission Air Transport) beter bekend as die “Vlieënde Dokter” en versamel seëls van oor die hele Gauteng.

Van hulle word verkoop op veilings en die opbrengs daarvan word aangewend vir die opleiding van dokters in die plattelandse streke van Natal.

In dieselfde huis in Randhart, waar hulle sedert 1968 woon, deel hulle ‘n ryk geskiedenis. Hulle het die huis vir slegs R12 000 gekoop en self daaraan gewerk. “Ons het nooit tuindienste of ’n huiswerker gehad nie en doen al ons take self,” vertel Robbie.

“Dit is nie dat ons nie werk wil skep vir ander nie, maar dit was vir ons nog altyd lekker om dinge self te doen en in vandag se tyd is dit baie beter vir ’n mens se veiligheid.”

Vir hulle 60ste herdenking het hulle dogter ‘n aand uit beplan vir die egpaar om die groot mylpaal te vier.

Hul raad aan ander is eenvoudig; “Hou die kommunikasie oop, besef julle is ‘n span, en deel alles saam.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button