
Die vroue van die Dinwiddie VLU-tak het onlangs bymekaar gekom by die lapa van die Alberton Aftree-oord vir hul maandelikse byeenkoms.
Twee nuwe lede is hartlik verwelkom.
Lede het die geliefde VLU-lid, Bébé Geldenhuys, onthou nadat sy onlangs oorlede is.
Hulle het haar beskryf as ‘n mense-mens wat met almal goed oor die weg gekom het.
“Sy was ‘n kosbare vriendin en haar hande het nooit stilgestaan nie,” het Ria van den Tillaard gesê.
“Bébé het altyd die lekkerste speletjies gehad wat ons kon speel. Sy het altyd geglimlag en ons gaan haar vreeslik mis,” het Ria van Rensburg, voorsitter, bygevoeg.
Tydens die vergadering is daar ook besluit om ‘n nuwe takvaandel te laat maak.
Rina Mowbray het die lede vermaak met ‘n stukkie leeswerk uit een van Nataniël se boeke, wat as die VLU se skrywer van die jaar aangewys is.
Die lede het ook gesels oor hul betrokkenheid by die Siyabonga Kinderhuis, waar hulle weekliks tyd spandeer om die kinders te leer brei en ander vaardighede aan te leer.
“Ons geniet dit vreeslik om die kinders te bemagtig,” het Ria vertel.
Na afloop van die vergadering het vroue meer geleer oor macramé beter bekend as knoopwerk. Elke lid kon iets maak wat hul kon saam neem huistoe.
Vroue wat belangstel om by die VLU Dinwiddie aan te sluit, kan Cheryl Mare skakel by 084 571 2551.