Local newsSchools

Voormalige onderwysers van Hoërskool Die Varing hou reünie

Voormalige onderwysers van Hoërskool Die Varing (gestig in 1980), later herdoop na Hoërskool Dinamika, het saamgetrek by Native Lily in Brackenhurst vir ’n emosionele reünie.

’n Atmosfeer van nostalgie was duidelik waarneembaar in die lag en gesprekke oor vergange dae tydens die langverwagte reünie van die oud-Varing-onderwysers by Native Lily, Brackenhurst op 11 April.

Tydens die reünie was ’n terugblik oor die skool, sy personeel en sy leerders van baie jare gelede ’n sentrale tema. Vriendskapsbande van destyds is hernu en hier en daar is ’n traan weggepik.

Die geleentheid het opvoeders wat tydens die stigting van die skool daar werksaam was en pionierswerk gedoen het, weer saamgebring – onderwysers wat diep spore getrap het in die vorming van die identiteit en etos van Hoërskool Die Varing.

Mollie Roberts, Estelle Visser, and Irma de Bruyn. Photo: Azusakhe Limba

Dit was baie jare voordat daar sprake was van ’n tweede Afrikaanse hoërskool in Brackenhurst, naamlik Palmietfontein. Later het die twee skole saamgesmelt om in dieselfde gebou Hoërskool Dinamika te vorm.

Van die opvoeders teenwoordig het 40 jaar gelede van aangesig tot aangesig in dieselfde personeelkamer gesit, gesels en gewerk. Vir voormalige Engels (eerste addisionele taal)-onderwyseres Anita Maritz was die geleentheid diep emosioneel.

Elna van Brakel en Tersia Fourie.. Photo: Azusakhre Limba

“Ons was so ’n gelukkige klomp saam as kollegas. Ek het gedink ek gaan hulle nie onthou nie, maar as jy mekaar sien, onthou jy weer al die goeie tye en hoe hard ons saam gewerk het,” het sy gesê.

Maritz vertel verder dat sy vier jaar by Die Varing skoolgehou het, onder die mentorskap van Mafie Geyser, en vertel ook van haar beginjare in die onderwysberoep en haar sterk bande met die leerders op daardie stadium.

Anita Maritz en Eraine Kinnear. Photo: Azusakhre Limba

“Ek onthou nog baie van my oud-leerders. Een van die seuns, Org Adendorf, was altyd so ’n ‘gentleman’ in die klas. Hy sou boeke uit my hande neem en dit uitdeel. Met hom het ek nog kontak.”

Haar herinneringe aan sekere leerders wat later professionele beroepe gevolg het, is nog baie pertinent. Een van hulle was Anton Greef, nou glo ’n ginekoloog in Gqeberha (Port Elizabeth), sowel as Tanya Jerling, wat besonder uitgeblink het in swem.

Onderwyssers van die voormalige Hoërskool Die Varing kueir saam. Photo: Azusakhre Limba

Daar was talle ander leerders wat baie toegewyd was aan die skool se akademiese en buitemuurse aktiwiteite – eenvoudig net te veel om op te noem.

Maritz kan na al die jare nie onoorkomelike uitdagings tydens haar jare in die onderwys onthou nie, maar gee krediet aan besonder sterk leierskap by Hoërskool Die Varing.

“Daar was besonder sterk leierskap onder Mike Hattingh, die skoolhoof. As ’n vlak 1-onderwyser op daardie stadium het ek geen uitdagings ondervind nie.”

Voormalige kollega Mollie Roberts sê die reünie is moontlik gemaak deur goeie koördinasie en moderne elektroniese kommunikasiemiddele.

Wilma van Niekerk, Heila Herbst en Elna Zeeman. Photo: Azusakhre Limba

“Ek het dit voorgestel. Estelle Visser het die datum en bymekaarkomplek gereël, terwyl Annatjie Steyn en Heila Herbst die reëlings ter plaatse getref het. Ons het selfs elektronies gestem oor die besonderhede,” het sy gesê.

Roberts het bygevoeg dat die hoogtepunt van die dag was om almal te sien glimlag met hul aankoms en om mekaar weer in persoon te groet.

Esther Nel, Tersia Leal en Annatjie Steyn. Photo: Azusakhre Limba

Estelle Visser, wat op ’n stadium die departementshoof vir ekonomiese wetenskappe by Hoërskool Die Varing was, is van mening dat die skool ’n belangrike rol in die Brackenhurst-gemeenskap gespeel het, veral in die beginjare.
“Op daardie stadium was ons die enigste Afrikaanse hoërskool in Brackenhurst. Ons het baie hard gewerk om van die skool ’n sukses te maak,” het sy gesê.

Sy het ook erkenning gegee aan die destydse skoolhoof, Mike Hattingh, vir sy inspirasie om die personeel te motiveer en ’n sterk skoolkultuur te vestig.

“Hy het altyd gesê, gee ’n onderwyser iets om te organiseer en dit sal ’n sukses wees. Hy het ons altyd tot groter hoogtes geïnspireer.”

Ela van Rensburg en Eraine Kinnear. Photo: Azusakhre Limba

Visser het ook benadruk dat die geskiedenis van skole belangrik is.

“Jy weet net wie jy is as jy weet waar jy vandaan kom. Opvoeders en leerders kom en gaan, maar erfenis leef voort in die leerders wat ons onderrig het en die lewens wat hulle bou.”

Sy het bygevoeg dat hoewel die oud-onderwysers van Hoërskool Die Varing hoop om in die toekoms weer bymekaar te kom, ouderdom en afstand toekomstige geleenthede sal bepaal.

“Ons het daaroor gesels, dalk so binne twee jaar, maar ons word oud. Ek is nou 79 jaar oud, maar ek is dankbaar om vandag hier te kan wees.”

Hierdie groep onderwysers het ook hulde gebring aan kollegas en die skoolhoof wat hulle ontval het, asook aan diegene wat die geleentheid om ander redes nie kon bywoon nie.

Hierdie reünie was ’n baie besondere geleentheid in die skool se geskiedenis, omdat dit die eerste amptelike geleentheid van dié aard vir oud-onderwysers van Hoërskool Die Varing was.

Na ’n kuier van vier ure is die groep uitmekaar met hernude vriendskapsbande, gedeelde vreugde en met die wete dat hulle bygedra het tot die grondlegging van ’n Afrikaanse hoërskool in Brackenhurst wat vandag bekend staan as Hoërskool Dinamika.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Alberton Record in Google News and Top Stories.

Azusakhe Limba

A journalist with a Diploma in Journalism from TUT. I write for Caxton Local Media, covering community news and events with a focus on clear, engaging storytelling. I'm passionate about using communication as a tool to inspire change, connect with communities, and promote meaningful engagement.

Related Articles

Back to top button