André se geskenk aan sy lojale ondersteuners
André vertel ook dat die mens dankbaar is vir die seëninge wat elke dag ontvang word.
Na ’n jaar wat vir elkeen verskillende uitdagings meegebring het, wil André Schwartz nou met sy gratis, splinternuwe enkelsnit, Ek Wens Vir Jou ’n Kersfees, luisteraars die gevoel van dié spesiale tyd laat ervaar.
“Kersfees is sinoniem met omgee, liefde, hoop en vrede. Met die pandemie wat die hele wêreld tot stilstand gebring het, is ek seker almal smag soos ek na Kerstyd,” het André vertel.
Ek Wens Vir Jou ’n Kersfees is uit André se eie pen en deel die gesprek tussen André en die man op die maan.
Dis ’n jolige gesprek totdat die man op die maan vra waarom die wêreld in soveel seer gedompel is en of die mensdom van God se geskenk aan Sy mense vergeet het.

André antwoord hom daarop deur hom te vertel van die mens se gebede en dat hoop en liefde die mensdom se geskenke aan mekaar is.
André vertel ook dat die mens dankbaar is vir die seëninge wat elke dag ontvang word.
“Ek het besluit om dié liedjie gratis beskikbaar te stel sodat ons almal wat die liefde van Kersfees vier, dit as ’n eenheid kan doen,” het André vertel.
Volgens hom is dit ook sy manier van teruggee aan sy lojale aanhangers wat hom ondersteun en bemoedig met boodskappe.

Ek Wens Vir Jou ’n Kersfees is verwerk deur vervaardiger Christie Schutte en is die eerste liedjie vanaf André se Kersfees mini-album, ’n Stukkie Kersfees. Dié album word binnekort met nog vyf snitte vrygestel en aanhangers kan uitsien na Stille Nag, O Holy Night en ’n baie prettige en onverwagste duet saam met nog ’n Suid-Afrikaanse gunsteling.
Die publiek sal Ek Wens Vir Jou ’n Kersfees deur hul normale digitale platforms kan luister of gratis op sy Facebook-blad kan aflaai en deel.




