Editor's choiceLocal newsNews

Drie van ‘n soort gaan hoërskool toe

Verbeel jou net hoe die lewe sal wees saam met iemand wie ‘n spieëlbeeld van jou is -- nou verbeel jou die lewe saam met twee sulke persone; vir die Stoltz gesin is dit groot sports…

“Daar is nooit ‘n dowwe oomblik nie,” beskryf Marietjie Stoltz, ma van Fairleads se identiese drieling, hul huishouding.

Dertien-jarige sussies, Natasha, Odette en Suné Stoltz het vanjaar by die Hoërskool Brandwag in graad agt aangesluit, nadat hulle hul laerskool loopbaan aan die Laerskool Rynfield voltooi het, en al drie sien baie uit na hul hoërskool loopbaan vorentoe.

Die borrelende drieling meen dat hul elk ‘n verskillende persoonlikheid het.

“Natasha is die lawwe ene,” het Marietjie beskryf.

“Sy hou van teken en verf en haar susters het vertel dat sy in die publiek as die stilste een voorkom, maar dat dit juis die teenoorgestelde tuis is, terwyl Odette die boekwurm is en Suné die spontane grapjas.

Die susters word reeds deur mede-leerlinge by die skool herken.

“Net vanoggend toe loop ons en hoor iemand sê: ‘Daar is die drie sussies,’” het Natasha ons meegedeel.

Hulle is in verskillende klasse verdeel, want, verduidelik Marietjie, dit is makliker vir die onderwysers.

Hulle het ook ‘n ouer boetie, Dalton (15), wie vanjaar in graad 10 aan dieselfde hoërskool is.

Die sussies verkies om uitsonderlik van mekaar te wees.

“Ek hou nie regtig daarvan as ons dieselfde klere aan te hê nie,” het Suné gesê.

Die dogters se pa, Marius Stoltz het vertel dat dit nog uitdagend vir die oumas en oupas en ander familielede is om die drieling van mekaar af uit te ken en die susters erken dat daar selfs tye is wat hul deurmekaar raak met die ander twee.

Die ouers se advies aan ander ouers met soortgelyke huishoudings is om elke oomblik ten volle te geniet.

Marietjie het gesê dat die kinders in ‘n oogwink groot word.

“Moet hulle nie groot wens nie en raak gewoond aan ‘n besige huis.”

Hulle het vertel dat hulle al gewoond is aan ‘n dol huis aangesien elkeen hul eie maats het wie kom kuier.

Marietjie se sleutelwenk is om dit een dag op ‘n slag te vat in finansiële en emosionele opsigte.

“Geniet dit – al raak dit moeilik,” het Marius bygevoeg.

Die drieling is in 2000 in die Glynnwood Hospitaal gebore en die gesin meen dat dit nie meer vreemd is vir hulle nie.

“Nou die dag toe vra Natasha: ‘Hoekom staar die mense?’” het Odette vertel.

“’n Mens vergeet naderhand dat dit vir ander mense ongewoon is,” het Marietjie bygevoeg.

Die dogters het vertel dat, alhoewel hulle nog sommige van hul tyd saam spandeer by die skool, hulle nie meer só na aan mekaar is nie en hulle mekaar nou en dan help met skoolwerk, maar dit die meeste van die tyd op hul eie aanpak.

Die ikoniese gesin is voltooi met drie spelerige honde, ‘n kat en hoenders op hul plot.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Benoni City Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button