Die paartjie lag vir 50 jaar saam
As jy in die De Klerks se huis in stap, sal jy 'n vars bos blomme in 'n vaas sien staan, wat Harry de Klerk (74), na 50 jaar van die getroude lewe, steeds vir sy vrou, Susan (69), huistoe bring.
Die City Times het by die egpaar van Rynfield, wie op Vrydag, 14 Maart, hul 50ste huweliksherdenking gevier het, gekuier.
Hulle deel steeds ‘n kyk tussen mekaar soos dié wat tussen twee verliefde tieners gevind kan word.
“Ons het nog nie een keer woorde gehad nie, nog nooit geargumenteer nie,” meen Harry.
Die lewenslustige paar stem ooreen dat ouderdom slegs verstandelik is.
“Ons twee kan verskriklik saam giggel,” het Susan vertel.
Harry en Susan is baie lief daarvoor om saam te reis.
“Ek en Susan weet nie na hoeveel lande in die wêreld ons al saam gereis het nie,” het Harry gesê.
Hulle het genoem dat hulle onder andere al in Hong Kong, Maleisië, China, Thailand, Frankryk, Spanje en Europa getoer het.
“Van die begin af is ons saam; ons gaan saam met vakansie, ons lag saam — en ons kan omtrend saam lag,” het Harry gesê.
Susan het gesê sy ken Harry al vir 55 jaar en hy hou steeds haar hand vas.
Hulle het in 1959 in Hartenbos ontmoet en is in 1964 getroud.
Hul huweliksdag is die dag na Susan se verjaarsdag.
“Ek was slim; ek het geweet ek gaan een van die twee datums onthou,” het Harry gegrap.
Hulle het twee kinders, Chantel en Ettiene de Klerk en twee kleinkinders, Keyan (13) en G’na (6), op wie hul baie trots is.
Susan is lief vir naaldwerk doen en bak graag saam met G’na wanneer sy kom kuier.
Harry is betrokke by die arbeidswet, en is veral betrokke by Rynpark se arbeidssake.
Volgens Chantel is haar ouers nog altyd net gelukkig.
“Ons dink dis verskrikkelik snaaks dat hulle in die aande steeds hande vashou terwyl hulle televisie kyk,” het sy gesê.
Sy het vertel dat daar altyd blomme in die huis is, wat vir haar ma gekoop is, en dat haar pa selfs in hul jonger dae, toe daar nie baie geld was nie, self vir haar blomme in die tuin gepluk het, en somtyds sommer in die bure se tuin.
Toe die City Times vra wat hul gehuim is om hul groot romanse na 50 jaar steeds aan die lewe te hou, het hul gesê dat vertroue en kommunikasie baie belangrike faktors in hul huwelik is.
“Dit is heel eenvoudig,” meen Harry.
“Ek en my vrou het nog nooit ‘n besluit gemaak sonder om eers te bid en met die Here daaroor te praat nie.
“Ons het ook, van die dag van ons troue af, gesê dat, as ons nie van iets hou nie vertel ons mekaar reguit.
“Die lewe is te kort om te baklei.
“Hierdie dag sal nooit weer wees nie — as dit verby is, is dit verby — hoekom wil ‘n mens nou kwaad vir mekaar gaan slaap?”
Die De Klerks het hul huweliksherdenking gevier deur ‘n twee-weke lange boodreis rondom die eilande van Madagaskar en Mauritius te geniet.
Hul huweliksdag het hulle rustig saam met hul kinders spandeer.



