Angelique Gerber deel haar seëninge met Oos-Rand Sakevroue
Hierdie maand, wat Vroue Maand is, is spesiaal gemaak vir die Oos-Rand Sakevroue, deur die geliefkoosde aktrise, aanbieder en voorblad gesig van meer as 20 tydskrifte, Angelique Gerber, wie, tydens hul vergadering, 'n praatjie oor haar loopbaan gelewer het.
Gerber het ‘n passie daarvoor om mense, veral jong meisies, te inspireer en te motiveer om hul drome na te jaag, deur haar eie lewe.
Sy het vertel hoe dit nog altyd haar droom as jong meisie was om in die televisie bedryf te werk en hoe sy te werke gegaan het om dié te bereik.
Sy het in Springs groot geword, waar sy aan verskeie aktiwiteite, insluitend ballet, drama en gimnastiek deelgeneem het, in voorbereiding vir haar droom.
Sy meen dat haar ma, Lynette Stemmet, nog altyd haar rolmodel as besigheidsvrou is en aan haar die voorbeeld gestel het dat dit harde werk en toewyding verg om suksesvol te wees.
Die aktrise het na skool haar graad in sielkunde aan die Universiteit van Pretoria verwerf, omdat sy gewaarsku is dat dit baie moeilik is vir ‘n mens om jouself in die film- en televisiebedryf te vestig.
Sy het beskryf hoe sy kort daarna in Londen gaan werk het, maar dit steeds op haar hart gedra het om toneel te speel.
Dit het gelei na haar uitdagende besluit om haar gemaksone te verlaat en terug te keer Suid-Afrika toe, om haar droom na te jaag, deur drama aan die Universiteit van Pretoria se drama skool te studeer.
Tydens haar tweede jaar, het sy ‘n deurbraak in die aktreursbedryf gemaak toe sy die rol van “Clara”, in die gewilde Afrikaanse sepie, 7de Laan, losslaan waar sy bekend geraak het.
Ten spyte daarvan dat sy die bal aan die rol gesit het met haar loopbaan, het dit op haar hart gelê om mense te inspireer en te motiveer deur haar werk.
Dis toe dat sy ‘n aanbiedingspos vir die KYKnet program, Boer Soek ‘n Vrou, losgeslaan het, wat sy meen aan haar ‘n platform gebied het om met vrouens te kommunikeer en bemagtig.
Sy het toe later ook haar honneurs in sielkunde voltooi.
Gerber gee aan die Here die eer vir al haar geluk.
“Ek sê altyd God is my business partner,” het sy vertel.
“Alles wat ek doen bespreek ek eers met Hom en vertrou dat hy my in die regte rigting sal lei.”
Sy het die vroue aangemoedig om spesifiek te wees wanneer hulle vir God vir iets vra.
“Ons dien ‘n God wat ons wil seen,” het sy gesê.
Sy het die vroue gemotiveer om altyd aan te hou glo en te droom, en nie ongemotiveerd te raak deur wat ander mense van hulle drome dink nie.
“Mense se opinies is glad nie ‘n weerspieëling van wie jy is nie,” het sy bygevoeg.
Sy het ook beklemtoon dat ‘n mens moet aanhou om hard te werk wanneer jy jou droom bereik het, om dit te volhou.
Sy glo ook dat mense mekaar moet help groei om hul drome te bereik.
Gerber het gesê dat sy haar drome najaag deur die “drie d’s” riglyn te gebruik, naamlik “determination, dedication and discipline”.
Sy het onlang haar eerste klere reeks, Angelique Gerber Red Carpet en Angelique Gerber Bikini, ontwerp en vrygestel.
Sy het ook ‘n vakleerlingskap program aangewend waarvoor jong meisies kan inskryf en waar hulle ‘n verskeidenheid take moet uitrig.
‘n Wenner word dan gekies, wie Gerber onder haar vlerk neem, deur haar saam te nooi na rooi tapytgeleenthede en haar te mentor sodat sy ‘n sukses van hierdie industrie kan maak.
Gerber is dankbaar vir haar sukses en hoop dat haar verhaal ander sal beïnvloed.
“Die Here het deur gekom vir my op die regte plek en die regte tyd,” het sy vertel.
Vir verdere inligting oor hoe om by hierdie klub aan te sluit, kontak vir Glynis Holdsworth by glynis@incash.co.za of 082 901 2813, of voorsitter Susan Noppe by noppe@worldonline.co.za.



