Local newsNewsSchools

Matrieks slaggereed vir eksamens

Die Benoni City Times wens al die matrieks van 2023 sterkte toe met hul eindeksamens.

Ten spyte van koud en reënerige weer is Hoërskool Brandwag se matriekklas van 2023 versigtig optimisties oor dié jaar se eindeksamens.

Die klas van 178 leerders het op 30 Oktober hul eerste vraestel geskryf – Engelse eerste bykomendetaal.

Na afloop van die twee-uur lange sessie het leerders stil uit die eksamenlokaal verdaag en huis toe gehaas om vir die week se vakke voor te berei. Hulle moet ekonomie, Afrikaans, geskiedenis en wiskunde leer.

“Vandag se vraestel was darem nie te erg nie,” het Heinz Botha gesê.

“Maar dit is net die begin, fisika lê soos ‘n berg voor my.”

Met meer as ‘n dosyn balkies wat op hul baadjies glinster sê Jana Alberts en Marisa Roodt dat wiskunde beslis hul Goliat is.

“Ons voorbereiding vir die eksamens is om vorige vraestelle deur te werk en onderwysers te vra vir hulp as ons vasbrand,” sê Marisa.

“Met die hulp en leiding van die personeel is ons na die beste van hul vermoë voorberei vir dié laaste hoofstuk van ons skoolloopbaan. Dit is nou ons verantwoordelikheid om die knoop deur te haak.”

Volgens die skool se adjunkhoof, Anton Geyser het hy vertroue in die matrikulante en sê dat weke se voorbereiding tevergeefs is as leerders toelaat dat hul senuwees op hol raak.

“Eindeksamens is die samevatting van alles wat deur die loop van hoërskool geleer is, dit is niks nuut nie,” het Geyser gesê.

“Die ware toets lê by die leerder om kalm te bly om al die inligting te herroep en op papier vas te lê. Ek glo die groep sal seëvier mits hulle in hulself en hul vaardighede glo.”

Oor voorbereiding sê Carlo Botha dit is belangrik om steeds ‘n balans te handhaaf en dus tyd te maak om ook te ontspan.

“My ouers moedig my aan om steeds te gaan oefen en so dus tyd weg van die boeke te geniet en kop skoon te maak,” het hy gesê.

Die vier leerders het hul mede klasmaats, asook al die matrieks van Benoni, sterkte toegewens vir die eksamens.

“Hou moed, dié is die laaste uitdaging wat voorlê,” het Jana gesê.

“Met geloof en volharding is alles moontlik.”

LEES OOK: Brandwag skitter in eindeksamens

LEES OOK: KYK: Skool gee die geskenk van lewe

   

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Benoni City Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button