Boogskutter mik vir perfekte telling
‘n Besering kon nie die tiener stuit om aan sport deel te neem nie.
Op eerste aansig, lyk Bianca Riley (17) stil en sagmoedig maar met ‘n pyl en boog in hand transformeer sy in ‘n gefokusde skut met die presisie van ‘Wonder Woman’.
As haar pa Raymond se enigste blom, het Bianca ewe graag pop gespeel en aangelê met die windbuks.
Gedurende die afgelope Oktober skoolvakansie het dié lid van Spartan Warriors boogklub in Bapsfontein opslae gemaak by die AGA Nasionale Interskole kompetisie, in Kimberly.
Die Bonaeropark inwoner was een van 740 deelnemers van klubs en skole dwarsoor die land en het aan beide die 3D asook Bullseye afdelings deelgeneem.

Daar het sy eerste plek behaal in vier kategorië en het weggestap as algehele wenner in vyf.
Sy is verder aangewys as die kompetisie kampioen.
“My skoolsport loopbaan het skielik tot ‘n einde gekom na ‘n beenbesering,” het die veelsydige atleet gesê.
“Die wete dat ek nie meer aan sport deelneem nie het my geknak en ek het dus myself met lees en skoolwerk bemoei.”
Bianca se belangstelling in boogskiet was geprikkel na sy aan die begin van 2020 met ‘n mede Hoërskool Bandwag leerder oor die sport gesels het.
“Hy het my genooi om ‘n besoek aan Spartan af te lê om meer oor die sport te leer,” het sy met passie gesê.
“Daar was nie kans vir terugkeer nie; die gogga het gebyt en ek het my pa oortuig om dit saam met my te beoefen.”
Tydens die Covid-19 grendeltyd was Bianca en haar boog ver van mekaar verwyder.
“Ek bring ongeveer agt ure elke naweek op die baan deur om my vaardighede te slyp. As ons nie kompeteerend deelneem nie, daag ek en my pa mekaar uit tydens informele pa-en-dogter kompetisies.”
Alhoewel dié klasifikasie van die sport nie as ‘n Olimpiese sport erken word nie, het Bianca gesê dit stuit nie haar ambisie nie.

“Ek het tot dus ver goed presteer en geniet elke oomblik,” het sy gesê terwyl sy opgewonde fotos wys van al die vriende wat sy tot dus ver gemaak het.
“My fokus is nou om ‘n perfekte 300-tal te vermag.”
Oor boogskiet sê Bianca die sport het haar nie net ‘n uitlaatklep gegee nie, maar dat haar akedemie tienvoudig verbeter het.
“Boogskiet verryk my lewe in alle aspekte. Die sport in inklusief, dit maak nie saak waar jy skoolgaan of wat jou fisiese vermoëns is nie, wanneer jy die teiken betree is almal op gelyke speelveld.”
LEES OOK: Marks kwartet maak hul merk
LEES OOK: Roxy gereed om doele te gooi in NZ







