Oos-Rand Stereo 93.9FM kan moontlik weer die luggolwe tref
Jy kan help om Oos-Rand Stereo weer op die lug te kry.
Die ikoniese Oos-Rand Stereo 93.9FM (Ekurhuleni FM), eens een van Suid-Afrika se mees suksesvolle gemeenskapsradiostasies, kan binnekort weer ’n bekende en vertroude stem in die Oos-Rand wees.
’n Inisiatief is onlangs van stapel gestuur om Oos-Rand Stereo 93.9FM weer as gemeenskapsradiostasie vir Ekurhuleni te vestig.
Die publiek, insluitend besighede, skole, kerke, gemeenskapsorganisasies, oud-luisteraars en belangstellendes, word versoek om hul steun te toon om die stasie weer op die lug te kry.
Volgens Frans Swart, een van die stigterslede, voormalige voorsitter van die direksie en uitvoerende komitee en destydse direkteur van programme, was Oos-Rand Stereo veel meer as net ’n radiostasie.
“Oos-Rand Stereo 93.9FM het as ’n kritieke brug tussen mense en hul stories gedien. Dit was ’n platform waar kultuur, taal, plaaslike talent en gemeenskapsnuus bymekaar gekom het,” sê Swart.
Hy beskryf die stasie as ’n lewenskragtige instrument vir gemeenskapsbou, onderrig en sosiale samehorigheid.
“Ons was een van die mees suksesvolle gemeenskapsradiostasies in die land en het selfs ander stasies gehelp deur gratis opleiding aan te bied. Die stasie het ook werk aan talle mense verskaf. Die Oos-Rand het ’n waardevolle kommunikasiemedium gehad wat werklik gewerk het.”
Oos-Rand Stereo het egter weens ’n kombinasie van interne uitdagings en ondermyning tot stilstand gekom. Ten spyte hiervan glo die betrokkenes dat die behoefte aan ’n eerlike, toeganklike en gemeenskapsgerigte radiostem vandag groter is as ooit tevore.
“Die geskiedenis en mylpale van Oos-Rand Stereo kan nooit uitgewis word nie. Dit was ware suksesverhale wat altyd deel van die rekord sal bly. Nou is dit tyd dat die gemeenskap van Ekurhuleni opstaan en hierdie belangrike radiostasie terug eis,” sê Swart.
Volgens hom sal die herlewing van die stasie stapsgewys aangepak word.
“Hoe meer ondersteuning ons kry, hoe beter. Na al hierdie jare het ons baie geleer en weet ons wat werk. Ons sal ook let op die nuutste tendense in die bedryf.”
Die reaksie uit die gemeenskap is reeds bemoedigend. Meer as 460 handtekeninge van ondersteunings is ontvang en briewe van ondersteuning stroom steeds in.
“Ons kry baie positiewe terugvoer en mense sê Oos-Rand Stereo het ’n waardevolle diens gelewer,” voeg Swart by.
Hoe om ondersteuning te toon
Lede van die publiek kan hul steun op die volgende maniere wys:
Vul die aanlynvorm in op die volgende skakel: https://tinyurl.com/oosrand
Teken die petisie as ondersteuning op die volgende skakel: https://tinyurl.com/eastrandstereo
Briewe van ondersteuning van veral maatskappye, organisasies, kerke, skole, gemeenskapsorganisasies, kan gestuur word aan info@lefra.com
“Selfs klein bydraes of ondersteuning op sosiale media kan ’n groot verskil maak,” sê Swart.
Die hoop is dat die bekende stem van 93.9FM weer binnekort die Oos-Rand sal verbind, vier en versterk.
LEES OOK: Brandwag vier 100% slaagsyfer
LEES OOK: Moories slaag lag-lag musiekteorie







