Local newsNews

100 kersies vir Rynfield tuinmaker

“Genade onbeskryflik groot het my tot my 100ste verjaarsdag gedra.”

Met ’n stewige greep neem Wilhelmina de Kock (Minnie) die leiding na haar Rynfield-huis se prag-binnetuin.

Sy vertel staaltjies oor elke plant se heenkoms en glimlag breed as sy spot dat sy nou net jonger word, want op 18 Mei het sy haar eeuwording gevier.

By die tafel in haar kombuis trek Minnie aan die strik aan die kraag van haar tuisgemaakte bloes.

“Dié is die hart van dié huis,” het sy met trots gesê.

“My man, Pieter, het self die vertrek verleng en elke kas volgens my spesifikasies gebou. Hy was ’n handige man wat my idees tot lewe kon bring.”

Gebore in die Hlatikulu-distrik in Eswatini (voormalig Swaziland), het Minnie in 1934 na Suid-Afrika verhuis om ’n sekretariële kursus in Pretoria te voltooi.

“In daardie jare was beroepe volgens geslag geklassifiseer en dus was die hoogste kwalifikasie in die kursus slegs in boekhou,” het Minnie gesê.

“Met die aanvang van die Tweede Wêreldoorlog was daar dus meer werksgeleenthede vir vroue. Ons moes mans se skoene volstaan om die land se ekonomie aan die gang te hou.”

In 1951 het Minnie en haar oorlede man Rynfield hul tuiste gemaak in ’n netjiese huis wat spog met ’n ruim tuin.


Elderly woman holding a baby
Minnie de Kock en haar jongste agter-kleinkind, Moné Mulder (1). Foto: verskaf

“Pieter was ’n maatskaplike werker en is met die ontwikkeling van die Daveyton-nedersetting opdrag gegee om bystand te bied aan die inwoners wat onder die apartheidsregering daar gevestig was.”

Gedurende dié tyd het Minnie by Colgate-Palmolive asook Hendler & Hart gewerk.

Tuis het Minnie se hande nie gestuit vir werk nie.

Die ma van drie seuns, Pierre, Marius en Robert, het gesorg dat haar kroos saans smullekker etes asook ’n ietsie soets om die familietafel geniet het.

Van bak en brou tot klere maak was haar dae propvol, maar dit is in haar tuin waar Minnie haar stiltetyd spandeer het.


Groep mense staan om 'n bejaarde vrou
Omring deur haar familie, het Minnie haar eeuwording saam met haar gesin, op 16 Mei gevier. Foto: verskaf

“As ’n kind wat in groot oop ruimtes groot geword het, was die stadslewe ’n aanpassing,” het sy gesê terwyl sy in die skadu van ’n reuse Henkelgeelhoutboom staan.

“Rynfield het vir ons ’n tuiste gegee waar ons al die gerief van die stad kon geniet, maar in ons tuin was ons ver verwyder van die haas en lawaai. Dié is my oase en die boodskap van blomme is God se teenwoordigheid in my lewe.”

Oor haar 100ste verjaarsdag sê Minnie die voorreg om oud te word is genade van bo.

“Dit is moeilik om te beskryf. Eendag het ek wakker geword en ek was oud, tog is my hart steeds jonk,” het sy gesê met ’n stomende koppie tee in die hand.

“Ek is dankbaar vir elke dag. As ek terug sit en my lewe nadink, is dit wonderbaarlik hoe die Here my daagliks beskerm en gered het.

“Soos in Psalm 23 is die Here my herder, ek kom niks kort nie. Ek weet dat ’n mens se dae nie gewaarborg is nie, maar ek glo dat wanneer God my na Hom toe roep, gaan ek stap in ’n pragtige tuin, met die mooiste blomme waar ek vir ewig die plesier sal hê om te bewerk en te geniet.”

Tesame met haar twee oorlewende seuns, Robert en Pierre, haar sewe kleinkinders, sewe agterkleinkinders asook haar twee jonger susters, familie en vriende, het Minnie haar verjaarsdag op 16 Mei met koek en tee gevier.

“Ek is geseënd dat ek steeds alles kan onthou en dat my gesondheid my goedgesind is,” het sy gesê.

“Ek is wel gemaan om nie meer te bestuur nie, maar ek kan steeds daagliks my etes voorberei, selfs ’n lekker soetigheid bak en, belangrikste van alles, my tuin geniet.

“Nie ’n enkele dag moet ooit as vanselfsprekend geneem word nie. Deel jou liefde en talente met die wêreld, deel jou liefde onvoorwaardelik met jou geliefdes.

“Onthou jou herkoms, maar wees bereid om die nuwe ook te aanvaar. Wees jouself in al jou weë en wees dankbaar aan die Skepper vir nog ’n geleentheid om voluit te leef.”

LEES OOK: KYK: Tannie Bettie vier ‘n nuwe eeu

LEES OOK: KYK: Brenties vier 100ste bestaansjaar

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Benoni City Times in Google News and Top Stories.

Jani de Beer

Jani went from working as a student intern for the Boksburg Advertiser to being employed as a junior journalist in 2004. Taking time out to start a family, she returned to the Caxton family in 2022 as senior journalist for the Benoni City Times. Her passion is telling her community's stories.

Related Articles

Back to top button