Local newsNews

Brentwoodpark se Eugene red 300 lewens

'n Enkele bloedskenking elke 56 dae kan moontlik drie lewens red.

Na 42 jaar as ’n gereelde bloedskenker het Eugene van der Merwe op 26 September sy 100ste eenheid bloed by die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddienste (SANBS) se Northmead-skenkersentrum geskenk.

In 1984, met die gebruik van ’n vakuumglasbottel, het hy toegekyk hoe bloed uit sy aar die bottel binne stroom, met die moontlikheid om drie lewens te red.

“Ek was nog nooit gaande oor naalde nie, maar ek het besef dat iets so eenvoudig soos om ’n bietjie van jou tyd af te staan om bloed te skenk, ’n baie groot verskil kan maak in ’n vreemdeling se lewe,” het hy gesê.

“My oupa het in sy leeftyd 162 eenhede bloed geskenk en dit was vir my ’n uitmuntende voorbeeld.

“Ek is gesond en lei ’n gesonde leefstyl, so waarom sou ek nie ’n bydrae wou lewer nie?”

Met die verandering van werk en familieverantwoordelikhede, bieg Eugene dat bloedskenking vir dekades op die lange baan geskuif was, maar dat die knaende begeerte om ander te help hom weer na die naaste bloedbank laat haas het en dit dus ’n blywende deel van sy lewe geword het.

As ’n aktiewe lid van die sekuriteitsbedryf vir die afgelope 30 jaar en tans die sekuriteitsbestuurder in lugvaartsekuriteit Johannesburg, spandeer Eugene sy privaattyd graag om die vuur met sy gesin.

As ’n man wie se lewe gefokus is op die veiligheid van ander, bemoei hy hom met die nuutste verwikkelinge in die sekuriteitstegnologiebedryf, in die hoop om sy span, asook dié wat op hul dienste staatmaak, te verbeter.

“Ek het al ’n paar keer my hand met rolbal probeer, maar wik en weeg nog om by ’n plaaslike klub aan te sluit,” het hy gesê.

“Werk, familie en bloedskenking is tans aan die hoof van my lys.”

Oor sy mylpaalskenking sê Eugene dat dit onwerklik voel dat hy moontlik ’n positiewe invloed op 300 mense se lewens gehad het.

“Wanneer ek skenk, hoop ek dat my skenking iemand se lewe kan aanraak en dus vir hulle tyd kan gun om saam met hul geliefdes te deel. Ek is baie trots en voel dankbaar dat ek gesond genoeg is om te skenk,” het hy gesê.

“Jy weet nooit, jy of iemand na aan jou mag eendag staatmaak op die skenking van ’n ander.

“’n Paar minute uit jou dag, elke 56 dae, is werklik die skakel tussen lewe en dood. Dit is so eenvoudig, maar het ’n reuse-impak.”

Aan dié wat dit oorweeg om deur bloedskenking lewensredders te word, sê Eugene dat, ten spyte van mediese vooruitgang, bloed eenvoudig nie vervaardig kan word nie.

“Pasiënte in nood kort mense om tot hul redding te kom,” het hy gesê.

“Deur jou mou op te rol en gemaklik in ’n SANBS-stoel te sit, is seker die maklikste manier waarop jy ’n betekenisvolle bydrae tot iemand anders se lewe kan maak.”

Die SANBS-skenkersentrum is by 2 Veertiendelaan, Northmead, geleë en maak daagliks om 10:00 oop.

Vir meer inligting, skakel 011 897 4951.

LEES OOK: SANBS wants your blood

LEES OOK: KYK: Leerders staan tou om bloed te skenk

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Benoni City Times in Google News and Top Stories.

Jani de Beer

Jani went from working as a student intern for the Boksburg Advertiser to being employed as a junior journalist in 2004. Taking time out to start a family, she returned to the Caxton family in 2022 as senior journalist for the Benoni City Times. Her passion is telling her community's stories.

Related Articles

Back to top button